Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Thursday, January 27, 2011

ESTHER ONTHOU OOK

---------- Forwarded message ----------
From: Esther Feltoe
Date: 2011/1/25
Subject: RE: OM TE ONTHOU OF NIE TE ONTHOU NIE...
To: pearsonarium@googlegroups.com

Liewe land, Petrus, hoe laat jy MY nou skoon met 'n Cheshire-kat grinnik op my gesig hier sit!

Net die strate se name, en die mense wat ek as kind geken het (Alberts gesinne, tandarts, die kinders wat saam met ons in Newton Laer was)!

Ek kan onthou hoe my broers (7 en 5 jaar ouer as ek) kaskarretjies gemaak het uit ou pram chassies uit en hoe ons dit by die bult af in 6de laan (ons het op die hoek gebly, 'n blok van die Kochs af) gery het, en dan om die draai geswaai het en in ons karre se driveway in by ons huis. 

...En hoe ons kinders, wat in die onmiddellike omgewing bebly het, saans in die Somer speletjies op die sypaadjies gespeel het soos touchings, en blinde mol en span-speletjies wat ek nie eens dink name het nie.

Wat 'n jammerte mens kan nie weer teruggaan na daardie tyd toe nie!
 

1 comment:

  1. Dis darem snaaks hoe ál dié verskillende onthou(jou)gedagtes saam-saam in ‘n mens kop rondomtalie soos ‘n wafferse rolbos wat momentum optel. Dan, wanneer jy die droëtakkiegedagtes uitmekaar haal om hulle een vir een te sien, hoor, ruik, voel, ervaar, kortom, te geniet, kom jy agter dat daar mín dinge in die lewe is wat só gaaf is as dié onthou. En as daar dan nog ánder mense is wat saam met jou dié sien, hoor, ruik, voel, ervaar en geniet, dit ook verstaan en waardeer, man dan staan ek sommer op en kom onthou weer (julle ken mos die ou wat na ‘n lang dag se swoeg op die bank gaan sit en sê “Man, maar hierdie sit is só lekker, ek staan sommer op en kom sit weer!”).

    Nouja, dis hoe ek gevoel het toe Esther praat oor hoe hulle “kaskarretjies gemaak ...(het) uit ou pram chassies en hoe (hulle) dit by die bult af ... gery het”. Ons het in ons gedeelte van die Baai nét so gemaak: ons het begin by die sypaadjie waar Lovemoresingel aansluit by Aragonweg en dan afgejaag tot in Diazweg doer onder. Dáár het jy nou momentum opgetel. Hierdie gawe ritte is egter een keer redelik in die wiele gery toe ek per ongeluk in die gaan-sit my balans effens verloor en in my poging om nie op die grond te beland nie, my vingers tussen-in die pram se konsertinameganisme beland en daar ry die ding sowaar ook nog aan met my gewig bo-op. My vingers het gelyk soos ‘n slagveld maar dié kaskarbedrijwigheid was só lekker dat ek die volgende dag maar weer by die klomp buurmaatjies aangesluit het!

    Ja, dit is jammer dat ‘n mens nie daarheen kan terug gaan nie, maar ek is baie bly dat ek dié dinge kan onthou en dat ek vir mense kan vertel “Ons wat in Suid-Afrika groot geword het in die sestiger- en sewentigerjare het in ‘n paradys groot geword en ons besef dit nou eers.”

    ReplyDelete