Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Tuesday, January 25, 2011

OM TE ONTHOU OF NIE TE ONTHOU NIE

DAG NORMAN, DEON, TONIE

Nou kom beneuk julle my nuwejaarsvoornemens behoorlik met julle gefilosofeer; ek het my voorgeneem om meer aandag aan my virtuele pligte te gee met die Noorsveld- en ander gedagtes, maar julle trek my aandag af.

Ja, Norman, ek dink ook 'n mens kán té filosofies raak, maar ek dink nie 'n mens kan ooit te veel filosofeer of onthou nie.
Só onthou ek dat ons mekaar vóór st 6 ontmoet het toe ons nog te Pickeringstraat 35, Newtonpark gewoon het, reg agter Deon-hulle en oorkant ons het die tandarts, dr Hartman (ek dink ek het vroeër 'n fout gemaak), en die bou-aannemer Alberts (broer van dr Louw Alberts, voordat hy beroemd was) gewoon.
Jou  Ma het saam met jou en jou suster (Gail?) by oom Ben en tannie Hester(?) en Pop Burger langs ons kom kuier en dáár het ons ontmoet. Jou Pa was nie by nie en ek het gedink dat hy al oorlede was. Ek dink jy wou tóé al 'n vlieënier word terwyl ek toe nog net in karretjiespeel belang gestel het.

Ek en my jonger broer, Chris, het uitgestrekte "Noorsveldplase" onder die Pickeringstraatse silwerblaar-, piesang- en ander bome aangelê en karretjiespeel tot 'n fyn, beeldende kuns verhef.

Ek herinner my ook dat Deon en sy broers (Anton en Christo) nie sulke groot karretjiespelers was nie, maar dat hulle knaend besig was om goeters te maak, of met windbukse, of om ondergrondse huisies te grawe, of om molle met formalien in te spuit...'n bietjie soos James Koch, wat saam met my in Newton was, en sy drie broers (Chris, Eric en Theo) wat op die hoek van Vyfdelaan en Mangoldstraat gewoon het.
...en so tussen al die bedrywighede deur was daar ook nog Deon-hulle se altoos-glimlaggende, kortstert-, korthaarhond, waarvan die naam Perri/Perry in my kop opkom. (Daai tyd is honne se name nooit geskryf nie en het hulle ook nie vanne gehad nie, behalwe as hulle veearts-toe is...)

My eie ervaring is dat 'n mens nie veel moeite hoef te doen om mooi of goeie herinneringe te bewaar nie; ek het die indruk dat álle herinneringe later 'n goue randjie kry, maar dit hou miskien verband met my beskouing dat DNS/DNA niks anders is nie as
vleesgeworde onthou.

Norman, as jy en Ma-Riaan lus is om in April vinnig weg te glip, ons woon net oorkant die kanaal...

Groete

Petrus 

No comments:

Post a Comment