Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Thursday, May 3, 2012

DIS ALS


Bekendes groet ‘geliefde knorpot’

2012-05-02 22:40Malani Venter
Stellenbosch. – ’n Diep denker. ’n Knorpot. ’n Reguit en eerlike man wat ’n ding gehad het vir tamatieslaai. 

So het vriende en familielede van mnr. Thys Visser (58), uitvoerende hoof van Remgro, hom gisteroggend in die NG Moederkerk in die Eikestad beskryf.

Talle bekendes in die sake­wêreld, onder andere mnre. G.T. Ferreira, eienaar van die landgoed Tokara, en Whitey Basson, uitvoerende hoof van Shoprite Checkers, het die roudiens bygewoon.

Visser is Donderdag in ’n ongeluk op die N1 naby Rawsonville dood. Sy vrou, Amanda, was ook in die motor, maar is ongedeerd.

Die Visser-egpaar was vir die langnaweek op pad na hul plaas by Barrydale toe hul Land Cruiser in ’n botsing met ’n aankomende Toyota Hilux en nog ’n voertuig betrokke was.

Visser se stiefpa, mnr. Geoff Anderson, asook twee goeie vriende, mnr. Johann Rupert, voorsitter van Remgro, en mnr. Lambert Retief, Paarl ­Media se voorsitter, het in ’n stampvol kerk hulde aan Visser gebring.

Anderson het sy stiefseun beskryf as ’n man met ’n klein hart. “Hy was soms ook ongeduldig, maar was die eerste een wat bystand gebied het aan iemand wat hulp nodig gehad het. Thys, jy het ons baie trots gemaak,” het Anderson gesê.

Hy het staaltjies uit Visser se kinderjare in Port Elizabeth vertel, ook hoe hy al op ’n vroeë ouderdom ’n goeie sakeman was.

“Thys moes sy sakgeld kry deur huiswerkies te doen soos om gras te sny of die motors te was.

Eendag toe sy ma by die huis kom, sien sy Riaan, Thys se broer, is besig om die gras te sny. Sy wou weet wat aangaan. Riaan het gesê Thys betaal hom 30c om die gras te sny. Sy het Thys 50c betaal om dit te doen.”

Volgens Rupert, wat Visser langer as 30 jaar geken het, was dit maklik om met hom bevriend te raak.

“Ons het dieselfde belangstellings gehad, soos sport en jag. Hy was filosofies diep, baie dieper as wat mense geweet het.

“Thys het ’n bietjie van alles geweet en baie van iets, soos sy werk.

Hy was nie ’n jabroer nie. Ja, hy kon ’n bliksem wees, maar Amanda, julle as gesin kan baie trots wees op hom. Dit sal moeilik wees om vir hom tot siens te sê,” het Rupert gesê.

Vir Retief was Visser soos ’n broer. “Ons was nie bloed­familie nie, maar ons was broers.”

Visser het baie byname gehad, ’n teken van respek en liefde, het Retief bygevoeg. Van “Vissie” tot “Mr Fish”, “Matthewis” en “Knorpot”.

“Hy was die mees geliefde knorpot op die hele Stellenbosch,” het Retief gesê.


Schalk Burger sr., oud-Springbok-rugbyspeler, adv. Sakkie van Staden en mnr. Whitey Basson, uitvoerende hoof van Shoprite Checkers, gister voor die NG Moederkerk in die Eikestad ná die roudiens vir hul vriend mnr. Thys Visser. Links voor is Burger se vrou, Myra.

No comments:

Post a Comment