Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Tuesday, June 5, 2012

ANDER KORRESPONDENSIE

---------- Forwarded message ----------
From: Jelleke 
Date: 2012/6/4
Subject: Ek trek Orania toe!
To:



Liewe Broer, Sussies, Vriende, Vriendinne, Kollegas, Leeskring-vriendinne, Bemindes en Gewese Bemindes

Party van julle weet al, party weet nie, maar die Stem in my het weer gepraat en gesê dis tyd om op te pak en Montagu te verlaat. (Ek is nou al 11 jaar hier - die langste wat ek nog op 'n plek gewoon het.) Ek luister maar na die Stem, want elke nuwe plek waarheen ek tot dusver getrek het, was 'n trappie hoër op die leer van my lewe. Weet nie waar ek eendag gaan eindig nie (die hemel?), want dit sal nou my 15de trek wees sedert ek begin werk het. Ek is baie hartseer en terselfdertyd baie opgewonde om te gaan. Praat van gemengde gevoelens - as ek nie huil nie, lag ek. Ek laat wonderlike vriende agter - party gaan ek seker nooit weer sien nie.  

Hierdie keer gaan ek Orania toe vir 'n heel nuwe ervaring en waarskynlik 'n groot uitdaging. Die huis en erf (1 000 vkm) wat ek daar gekoop het, is op Brosdoring, 'n landelike ontwikkeling op 'n plaas buite die hoofdorp - daar is geen Telkom-lyne of Eskom-krag nie. Ek sal so groen soos veldgras hier leef - sonpanele, windlaaier, batterye om krag te stoor, gas en 'n droë toilet. (Terloops, die urine, verdun met baie water, word gebruik om die aangeplante struike en bome nat te maak - uitstekende voedingskrag en geen ekstra bemesting is nodig nie.) Ek betaal net R80 per maand vir water (ongemeter) regstreeks uit die Oranjerivier en 'n R20-heffing aan die maatskappy wat die ontwikkeling bestuur. Ek moet egter self my vullis na die herwinningsplek aanry. (Orania het lankal begin met herwinning en alle inwoners moet hul afval herwin en skei.)

Van my vriende verwag dat ek binne 'n maand uit die dorp begelei sal word, want ek is mos nie eintlik wat 'n mens kan noem 'n konformis nie. En dan hou ek nog so daarvan om kaal buite te stort en rond te loop. Ek gaan so gou moontlik 'n digte kanferfoelieheining om my huis plant. Siende dat dit 'n landelike ontwikkeling is en boonop 'n bewarea, mag 'n mens nie konvensionele heinings soos mure oprig nie. 'n Mens mag ook nie gras plant en erg tuinmaak nie omdat dit die veld versteur. Dit pas my goed - ek het genoeg van onkruid uittrek en tuinmaak gehad. Ook van huisrestourasie, bouery en brouery. Ek wil my energie nou aan ander goed bestee, soos kreatiewe skryf, skilder en handwerk.

Orania lê in die Noord-Kaap aan die oewer van die Oranjerivier en 'n mens kan die Vrystaat oorkant sien. Dit is minder as 2 uur van Kimberley en net meer as 2 uur na Bloemfontein. Die naaste dorpe is Hopetown en Petrusville (twee verwaarloosde, vuil dorpies). Daar is baie boorde en landerye onder besproeiing op Orania en in die omgewing, met die gevolg dat dit pragtig groen is in die somer. Ook verskriklik warm en vogtig. Ek sien vreeslik uit na die somerse donderstorms wat ek so mis hier in die Wes-Kaap. In die winter is dit ysig koud - ek hoor 'n mens se sjampoe vries in die bottel as jy dit op die vensterbank los. Die dorp het lowerryke groot bome oral langs die sypaadjies, en, terloops, die grootste pekenneutplantasies in die land. Daar's 'n pragtige vakansie-oord langs die Oranje met 'n weelderige hotel, spa, restaurant, woonwapark en chalets (wat te huur is, vir dié wat wil kom kuier).

Soos julle op die foto's kan sien, is my nuwe huis maar strak en styf, hard en skerp - die teenoorgestelde van my mooi ou Victoriaanse kleibaksteenhuisie met sy oregonvloere, solder en dik mure hier op Montagu. Binne is daar darem meer potensiaal. Ek is net dankbaar dis van soliede baksteen - die meeste huise op Orania is opslaanhuise van die destydse Departement van Waterwese. Orania was 'n kamp waar werkers wat aan die groot Van der Kloof-dam daar naby gewerk het, gehuisves is. Dit is later deur prof. Carel Boshoff en 'n konsortium gekoop as die beginpunt van 'n Afrikaner-volkstaat. Duisende hektaar van die oorspronklike plaas Vluytjeskraal is intussen bygekoop vir nuwe uitbreidings en ontwikkelinge.

Daar is ongeveer 'n duisend inwoners op die dorp en duisende "uitwoners" wat Orania ondersteun, maar weens omstandighede nie daar kan woon nie. Daar is twee uitstekende skole op die dorp (een met 'n koshuis) wat baie blanke kinders van die omgewing trek. Ek is veral in my noppies oor die groot dorpswembad - nou kan ek weer my geliefkoosde sport beoefen.

Daar is baie gemeenskaps- en kultuuraktiwiteite op die dorp, ook heelwat nywerhede, winkels en 'n OK. Orania het sy eie vakansiedae (bv. Bittereinderdag ter herinnering aan die laaste Boerekrygers wat die stryd teen die Britte in die Tweede Vryheidsoorlog volgehou het) en erken heelwat van die "buiteland" (Suid-Afrika) se vakansiedae nie, bv. Werkersdag en Jeugdag. Die dorp het ook sy eie geldeenheid, die ora, sy eie bank, 'n eie radiostasie en sy eie selfverkose dorpsraad. Hoewel die raad geen subsidie van die Noord-Kaapse provinsiale regering ontvang soos al die munisipaliteite nie, is dit een van die weiniges wie se boeke klop. G'n wonder nie - daar's blankes in beheer.

Wonderlik van Orania is hoe skoon dit is - geen gemors op die strate nie, geen vandalisme, geen dronkes op straat, geen urinering in die openbaar of leeglêers op die straathoeke. Geen geskel en "Jou ma se p... nie". Huise het geen diefwering en baie het geen sleutels nie. 'n Mens kan die sleutel in jou motor los as jy êrens parkeer. Jy kan ook twaalfuur in die nag buite ronddwaal en na die maan staar as die gier jou pak, sonder vrees dat jy aangeval/verkrag/beroof/vermoor gaan word. Alle arbeid op die dorp word deur die inwoners self gedoen, van vullisverwydering tot bouwerk en plaaswerk - selfwerksaamheid is die hoeksteen waarop Orania gebou is. Sodra 'n mens "volksvreemde" arbeid gebruik, moet die werkers in die omgewing gehuisves word, en dis die begin van die ellende ...

As julle meer van Orania wil weet, besoek gerus http://www.orania.co.za/

Kom kuier asb. vir my op Orania. Vee al die negatiewe stories wat jy al oor die plek gehoor en gelees het uit jou kop en kom ervaar dit met 'n oop gemoed. Ingelsmanne, Rooinekke en Grieke is ook baie welkom - glo dit of nie, daar woon 'n goeie klompie Ingelse op die dorp. Natuurlik is geen plek volmaak nie en mense is oral maar mense met hul streke en agterbakshede en hebsug. Maar as 'n mens moet kies tussen swart euwels/duiwels en wit euwels/duiwels, gaan ek maar vir wit. En ten minste word my taal gehandhaaf en Afrikaner-besighede het Afrikaanse name.

Baie liefde

Jelleke

Ns: O ja, amper vergeet ek: Ek trek die 28ste Junie uit Montagu, ry ná die laaiery oornag deur na Orania (so 9-10 ure se ry) en kry die treklorrie die volgende dag op die dorp vir die aflaai. Gaan absoluut voos wees. My e-posadres sal verander, maar ek weet nog nie wat dit gaan wees nie - nog in die proses om met die Aerosat-mense te reël vir 'n satellietkonneksie. Sal julle almal laat weet.


Die opwindende voorkant (noord). Ek wil 'n lekker groot stoep hier aanbou. Die sonpanele
op die dak is onvoldoende - ek sal 'n windlaaier moet installeer en nog batterye om krag 
te berg. Groot geld. Die tralies by die garage en die voordeur moes die vorige eienaar se
honde binnehou - nie misdadigers uithou nie. Geen honde mag los op Brosdoring rondloop 
nie. Hoera en halleluja! Geen histeriese gekef en geblaf dag en nag soos hier op Montagu nie.


Die sensasionale agterkant met die toegeboude waskamer (suid). Die erfgrens is die lae
baksteenmuurtjie. Ja, ek was ook geskok!


Die baie indrukwekkende westekant. Geen vensters om die huis koel te hou in die versengende
hitte van die somer. Let op die gesofistikeerde waterstelsel (die groen balies). Die water kom 
regstreeks uit die Oranjerivier en word gesuiwer vir huisgebruik.


Die geïnspireerde oostekant. Die draaddingetjie reg bo is vir satelliet-internet. Daar is geen 
telefoon- of kraglyne nie. Die satellietskottel gaan saam met die eienaar - ek het gelukkig 
geen TV wat my breinspoel en dommer maak as wat ek is nie.



BO & ONDER: 'n Heerlike groot spasie as 'n mens by die voordeur inkom (skuifdeure links).
'n Mens kan dit seker die voorhuis noem. Nie regte houtvloere soos in my Montagu-huis
nie, maar gelamineer. Darem beter as koue wit teëls (ekskuus vir almal wat wit teëls het).



'n Hoekie in die voorhuis. My rekenaarbedryf te groot hiervoor, maar dis ideaal vir boekrakke.


Die kombuis. Gelukkig baie kaste (wat nie lank beige sal bly nie) en 'n ingeboude gasstoof.
Ek moet 'n spesiale yskas met 'n lae kragverbruik koop om op sonkrag te werk.


Die opwasarea oorkant die kombuis is agter 'n 
muur versteek. 'n Mens kan dus lui wees en net 
een keer per week skottelgoed was.


Die droë toilet. Dis nogal 'n gesofistikeerde patent,
ingevoer uit Swede. As jy gaan sit, skuif twee 
kompartemente oop - een vir vloeistof voor en een
vir die vaste stowwe agter. Glo perfek geposisioneer,
volgens die eienaar. As die urine en vaste stowwe
geskei word, is daar geen reuk nie. Die urine vloei
in 'n kan na buite en word as vloeibare bemesting
gebruik (verdun). Die vaste stowwe beland in 'n 
plastieksak binne 'n emmer. As die sak vol is, word
dit uitgehaal en begrawe. Binne 'n paar maande is
dit droë kompos. Die urinaal is vir mans, want hulle
sit mos nie as hulle pieps nie en mik dan na die
verkeerde kompartement. Interessant, nè?


Die eksotiese hoekbad in die piepklein badkamer.
Die bad- en waswater word deur gas verwarm. Selfs
al is dit bewolk en reënerig en daar's min of geen
krag in die batterye oor, het 'n mens darem warm 
water - 'n uiterse seëning op 'n yskoue aand sonder
'n bedmaat.


Die toegeboude waskamer agter die kombuis en opwasarea.


Die hoofslaapkamer. Dit sal nie lank so vaal bly nie. Die muur links bestaan uit groot
ingeboude melamienkaste - nie besonder stylvol nie, maar darem genoeg pakplek. Ek bring
in elk geval my drie mooi houtkaste saam - as 'n mens dit verkoop, kry jy omtrent niks
daarvoor nie, en wil jy eendag weer sulke kaste koop, kos dit 'n fortuin.




Slaapkamer 2, wat my studeerkamer gaan word. Dis 'n spieëlbeeld van die hoofslaapkamer
langsaan met ingeboude kaste rug-aan-rug met die hoofslaapkamer s'n. Dis 'n lekker 
sonnige kamer wat noord front. My huidige studeerkamer front suid en is 'n instap-vrieskas.

 



---------- Forwarded message ----------
From: Petrus Potgieter <potgieter.petrus@gmail.com>
Date: 2012/6/5
Subject: Re: Ek trek Orania toe!
To: Jelleke 
Cc: 


My liewe Jelleke

Ek probeer mense oortuig dat dit nie 'n prestasie is om (dood)gewoon óúd te word nie, maar hóé jy oud word, is van belang.
Eweneens dink ek dis nie van soveel belang watter invloed die omgewing op jóú het nie, maar watter invloed jý op jou omgewing het wat tel; alternatiewelik: dis nie vére wat mý voël maak nie!

Ek wil nou nie voor-op-die-wa wees nie, maar jy wil nie dalk vir ons sê wat kos jou strak en stywe, harde en skerp huis nie - dis nie uit nuuskierigheid nie, maar om vas te stel hoe haalbaar dit in die algemeen is.

Ek wens jou alle heil toe met jou Voortrekkeravontuur!


Petrus











No comments:

Post a Comment