Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Saturday, May 11, 2013

HERFSBOODSKAP


Ballade van die Bose
Ken jy my nou?
Het jy die spieël gesien
en ken jy jou?

Wanneer jy wil vlug
uit die stad wat brand,
dan vlug ek saam
soos 'n vrou aan jou hand.
Die veles meen
hulle ken my gesig,
maar ek skuil te glansryk,
te na aan die lig,
en as hul wil waarsku
en wysheid gee,
dan praat ek reeds
in die woordklank mee;
en die snelles vlug,
waarheen? vir wie?
ek is nie skoon
of aaklig nie,
en waar hulle vlug,
daar dra hul my mee
in die grys-wit groewe
van die senuwee.
Ek is ín jou
gevleg, gerank
soos 'n wortel in
in die donker bank,
en van voor die daeraad
se blank begin
straal ek by albei
jou oë in.
Weet jy genoeg:
wat God vereen het,
hoort saamgevoeg?
*
Ek is jou wese
se ondergrond
en ek trap in jou spoor
soos 'n goeie hond.
Toe God die aarde,
die silwer bal,
in vreugde en spel
uit sy hand laat val,
was ek die baaierd
waarin dit weeg,
die vormlose,
en woes en leeg.
Toe 'n stil vroeë water
- voor vis of net -
tot die eerste wit kiem
geëtter het,
was ek die donker
wat onder skuil:
die koue grond en
swart klip van die kuil.
Ek was die skaduwee
van Gods gang:
ál wat Hy verlaat het,
het ek gevang;
en nou dat jy groei
om die baasskap te hê,
is ek die rooi naelstring
waaraan jy lê.
Ek is jou wese
se ondergrond
en ek trap jou spoor
soos 'n goeie hond.
Wil die kennis nou kom:
ek is die grond
al is jy die blom?
*
Al is julle helder
en slank en vry
moenie dink dat julle
my dood sal kry,
of my strenge gang
op my baan sal stoor:
al is ek die hond,
ek hou die spoor,
ek blaf teen elke
horison
en as Gods Gees
voor die suiwer son
tot skoner gestalte
as julle is, skry,
sal ek weer helder wees,
slank en vry.
O waar sal jy gaan
en met watter skip?
die aarde is branding
en oral is klip,
of as jy wil vlug
uit die stad wat brand,
dan vlug ek saam
soos 'n vrou aan jou hand.
Ken jy my nou?
Het jy die spieël gesien,
en ken jy jou?
[NP van Wyk Louw, 1940]


...of dalk verkies jy:



En as ek dood is ... 

En as ek dood is, sal alles nog so mooi wees.....? 
die ylrooi bloeisels smôrens blink aan die perskeboom, 
wit wolke torings bou daar bo die verste berge, 
die kalwers langs die kraalmuur smiddags lê en droom? 
Sal daar nog warm son wees tussen donker bome, 
en goggatjies nog teen die grassies klim, 
as ek so ver is en daarvan nie weet nie, 
en maar geen liggie voor my oog wil glim? 
Sal voor my venster nog die rose somers rank, 
die berge ver, so ver en blou wees, 
die swaweltjies in waterklare lug draai, 
en sal die gras nog hier so warm net soos nou wees? 
Ek wil geen mooier wêreld hê as hierdie, 
ek wil nie blind wees, blind en doof en koud. 
O sterf met my, o sterwe, skone wêreld, 
hier in ons liefde eer jy dof word en so oud.


[NP van Wyk LOUW, 1928 - 1930]

No comments:

Post a Comment