Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Saturday, June 29, 2013

"MY SUBSTANTIEWE ANTWOORD"

Rondom die begrip "nasionaal"


II
                                                                                               26 Oktober 1951
My liewe jong vriend,

        In die eerste stuk van hierdie lang brief kon ek net op een — maar vir my die ernstigste — aanklag ingaan wat jy teen my ingebring het. Ek het erken dat jy my met reg betig waar vroeëre woorde van my die indruk kon geskep het dat die nasionalisme feitlik 'n godsdiens vir die mens kan wees.

          Vandag wil ek dadelik eers die ander besware opsom — so objektief soos ek kan sonder om jou hele brief oor te skryf.

          Die tweede kom m.i. hierop neer: die nasionalisme is 'n vergrote portret van die egoïsme; dit is 'n verheerliking van die eie volk; en hiermee moet dan 'n miskenning van die vreemde, 'n neersien op ander volke saamgaan — presies soos die egoïs sy eie waarde so oordryf dat die waarde van ander vir hom onbelangrik word. En dit, sê jy, kan nie die basis van 'n letterkunde of 'n geesteslewe word nie.

          En jou derde beswaar sou ek so wou saamvat: die nasionalisme is "eng"; dit kan geen universele gedagte wees nie — geldig vir alle lande en alle tye; en ook om hierdie rede kan dit nie werklik so 'n basis vorm nie.

          My liewe vriend, ek weet: as ek op hierdie opvattings — die engheid en die egoïsme van die nasionalisme — ingaan, dan begin ons in 'n moeras van begrippe rondtrap waarin 'n mens uiteindelik omtrent alle moderne lewenshoudings en alle sondes van nasionaliste gaan insleep. En tog glo ek dat 'n mens 'n paar gedagtes sal kan verhelder — as ek die gawe kry om duidelik te praat, en jy die geduld behou om sonder vooroordeel te luister.

          Laat ons die tweede beswaar beskou: die verheerliking van die "eie", die self-verheerliking van 'n volk.

          Jy sê in jou brief — en dis waar —: "Nasionaliste is maar te geneig om te pronk met ‘My taal is die mooiste taal wat daar is’ ..." (Ek vra my af of sulke "nasionaliste" by ons ooit Totius se verse oor "Die Bantoetaal" lees:

          soos uit so 'n bors van bronsmetaal
          so klink by oorvloed van vokaal
          die heerlik-ryke Bantoetaal ...?)

          "My land is die beste land om in te leef; ons landsgodsdiens is die enigste ware godsdiens; ons kultuur is hoog en waardevol ... dit moet teen alles wat vreemd is, verdedig word, en dit moet eerder op ander oorgedra word as dat ons van hulle iets hoef aan te neem ..."


          Jy het gelyk: daar bestaan mense wat so praat ... of dink; en hulle bestaan nie net in Suid-Afrika nie. Ook: waar hulle in Suid-Afrika voorkom, is hulle nie alleen Afrikaanssprekend nie!

          Maar vir hierdie geesteshouding bestaan daar gelukkig 'n woord wat anders is as "nasionalisme" — nl. "chauvinisme". (Ons in Suid-Afrika noem dit ook "jingoïsme"; maar ons moet gereed wees om dan ook van Afrikaanse jingo's te praat.)

          Die chauvinisme is die swart engel van die nasionalisme en bly bestendig naas hom soos sy skaduwee. Wanneer 'n volk soos die Franse, die Duitsers, of jou eie mense, die Engelse, in die loop van eeue werklik 'n groot nasionale kultuur opgebou het — 'n kultuur waarin die mens ten volle mens kan wees — dan kom die bose engel na die domstes van so 'n volk en fluister vir hulle: "Julle kultuur is die hoogste, ja, die enigste werklike kultuur op aarde." En hulle glo hom, want hulle ken nòg hul eie kultuur nòg die van ander volke. (Mag ek jou herinner aan Rhodes wat as hoogste ideaal om na te streef, gestel het: die heerskappy van die edelste menseras — die Angel-Saksiese – oor die hele aardbol? Lank voor Hitler het hy hierdie ideaal opgestel; en in Suid-Afrika het hy nog altyd sy standbeelde en sy vereerders.)

          Werklike groot nasionale prestasies kan so maklik deur die chauvinisme gevolg word; daarom juis is dit so dikwels die sonde van die groot nasies. (Ek het twee voorbeelde genoem, 'n Engelse en 'n Duitse; en die woord self kom uit Frankryk.)

          Maar ook by kleiner volke kan dit voorkom. By hulle is dit meestal reaksie op onderdrukking, veronregting of agterstelling. Wanneer die geestelike leiers van 'n onderdrukte volk vir hom deur lang jare geleer het: "Jy is nie niks, nie waardeloos nie"... dan kom die swart engel en fluister: "Jy is beter as ander."

          Jou brief beweer egter verder: "Die nasionalistiese selfverheerliking van volke lei tot minagting van ander volke en is uiteindelik die oorsaak van die meeste oorloë."

          Ek meen dat ons ná my vorige uiteensetting hierdie sin nou in presieser woorde sou kon oorskryf: "Die chauvinistiese selfverheerliking van volke lei tot minagting van ander ... en ... uiteindelik ... tot oorloë. "Dit sou juister uitgedruk wees — maar nog nie waar nie. Ek glo naamlik dat oorloë nie alleen hul oorsake in die chauvinisme het nie, maar in veel meer ingewikkelde faktore: ekonomiese, voedsel- en bevolkingsvraagstukke. Maar dit is waar: wanneer hierdie faktore 'n volk of 'n hele wêrelddeel tot digby 'n uitbarsting gebring het, dan gebruik die politieke leiers dikwels chauvinistiese leuses en slagwoorde om die mense gereed to kry vir die stryd. “Ons veg vir die behoud van ons kultuur" klink soveel edeler as "Ons veg om stoflike voordele vir ons groep” of “Ons veg om stoflike voordele vir 'n klein klompie rykes binne ons groep”.

          En dit is juis omdat die ware nasionalis hierdie gevaar ken dat hy die chauvinisme as 'n doodsvyand moet beskou. Deur dié se optrede kan juis die kosbare dinge wat die nasionalisme verdedig, in gevaar kom. Binne 'n magtige en onbedreigde volk is die nasionalisme altyd krities teenoor die sondes van sy groep; of andersom: die man wat binne so 'n groep spottend en krities optree teenoor volkseuwels, is 'n ware nasionalis — al noem hy hom ook iets anders. Maar binne 'n klein, bedreigde volk moet die ware nasionalis kritiek en aansporing in 'n fyn ewewig hou — so fyn dat hy seker maar selde voel dat hy sy taak behoorlik verrig.

          'n Laaste woord nog oor hierdie "oorlogs-argument" van jou: dis dikwels nie die nasionalisme nie maar die miskenning van die nasionalisme wat tot oorloë lei. Is Europa nie vandag besig om in Oos-Asië vir so 'n miskenning te betaal nie?

          Jy sal al voel: ek het nog steeds gepraat oor wat die nasionalisme nie is nie, maar nog nie gesê wat dit is nie. Dit wil ek nie doen nie, want ek twyfel daaraan of ek hier so dadelik 'n goeie definisie sal kan opstel. Maar iets positiefs wil ek darem probeer gee.

          'n Mens het 'n volk lief, nie omdat hy heerlik en die beste volk op aarde is nie; jy het hom lief om sy ellende. (Mag ek vra: "Het jy self die miljoenêrs van jou volk lief?” En as jy antwoord: “Ek het my volk glad nie besonder lief nie,” dan wil ek vra: "Is dit miskien omdat jy geen ellende by hulle gewaar nie?" En as jy sê: “Ek het ander groepe – bv. die Bantoes – lief,” dan vra ek: “Is dit om hul heerlikheid of om hul ellende?")

          Ek gebruik die woord ellende hier in die pregnante sin van 'n diep gebrek. En hierdie ellende is sekerlik nie alleen ekonomies nie.

          'n Ware en bewuste nasionale beweging ontstaan altyd waar enkeles 'n groot agterstand by hul volk gewaar. Miskien is die ellende ekonomies. Denkende mense sien rondom hulle: armoede, hulpelose stryd, wanhoop; en hierteen begin hulle optree. (Wanneer alleen 'n deel van 'n volk ekonomies ellendig is, dan noem sulke leiers hulself waarskynlik vandag "sosialiste".)

          Hier het jy die reg om te vra: "En as die ekonomiese nood dan weggeneem is, en, sê nou maar, die hele volk betreklik welgesteld raak, verdwyn die volksliefde dan — en daarmee die nasionalisme?"


          En ek sal antwoord: "Ja: in soverre dit alleen 'n ekonomiese nasionalisme was, moet dit dan verdwyn. As ek alleen ekonomies gedink het, en binne 'n ryk volk geleef het, sou ek my nie in die minste aan hom as volk gesteur het nie, nie in liefde of in haat nie; en ek sou met my eie sake voortgegaan het, of my om ander volke se toestand bekommer het. (Is dit nie wat jy self besig is om te doen nie?) En vandag is dit sekerlik met die Afrikaner ekonomies beter gesteld as vyftig jaar gelede. Daarom stel die ekonomiese nasionalisme nie besondere eise aan my nie."

          Maar 'n mens dink nie alleen ekonomies nie; en die ellende waarvan ek gepraat het, is nie alleen stoflik nie. By 'n volk vir wie 'n mens werklik liefhet, sien jy sy vooroordele, sy kleinlikhede, sy geestelike agterstand. (Sien jy niks hiervan by jou eie mense nie?) Sou 'n mens nie selfs 'n miljoenêr kon "liefhê" nie wanneer jy aan sy verskriklike menslike beperkthede dink nie?

          Maar ons gebruik die woorde liefde in hierdie verband in 'n baie vreemde sin — omdat ons geen beter woord het nie. Die liefde waarmee 'n mens ’n volk liefhet, is nie soos die tussen ’n man en ’n vrou nie; dis eerder soos die liefde waarmee 'n mens 'n kind liefhet. Dis nie in hoofsaak gerig op deugde of krag of skoonheid nie, maar op swakheid, verblindheid hulpeloosheid en ’n blote moontlikheid.

          Ek dink hier aan die woorde van 'n groot Joodse nasionalis, Martin Buber. Hy praat van 'n Jode-vriend, Ragaz (ek haal die Nederlandse vertaling aan, want jy kan gerus meer Nederlands lees as jy wil verstaan na watter kant toe ons Afrikaanse kultuur ook sy voedingsbronne het), en hy skryf: "Hij zag even goed als wij zelf, van hoe twijfelachtige aard onze innerlijke existentie is, hoe ontoereikend de kracht van onze ziel, hoe gebrekkig onze lewensvorm, hoe ontwricht onze volksbouw tot in het diepst van ons wezen. Maar ook heeft hij gezien, hoe in aanleg in ons verborgen ligt, het twijfelloze, het absolute, het feilloze, het evenwichtige, dat voor de ogen van de echte vriend evenals voor ons eigen weten, door al onze problematiek onaantastbaar heen schemer."

Nee, dis nie verheerliking van die eie volk wat 'n man so laat praat nie.

          Maar nou — tot aanstaande week toe!

NP van Wyk Louw

[Uit: Liberale Nasionalisme, 1958]


Wednesday, June 19, 2013

NOG 'N BIKI


‘In uw reportage over de Siberische toendra hebt u het nergens over de shoah, noch over de slavernij van de zwarten. Hoe verklaart u dat?

NET 'N BIKI HUMOR

                                                                               
                                                                                   [leocartoons.be]

Tuesday, June 18, 2013

JA, EK ÍS MY BROER SE WAGTER...

...en lees veral die kommentaar...



Weer tyd vir quo vadis?

2013-06-15 23:14


 NP van Wyk Louw herinner ons dat ’n oop gemeenskap jaloers verdedig moet word, skryf Ton Vosloo

Vanjaar is nie net die 175ste herdenking van die begin van die Groot Trek nie, maar ook die eerste van ’n rits ander herdenkings.

Die Vrouemonument in Bloemfontein is vanjaar 100 jaar oud; volgende jaar herdenk ons die Rebellie van 1914 en nader aan eie huis vier Nas­pers en Die Burger in 2015 hul 100ste bestaansjaar. In 2016 is die Helpmekaar-studiefonds ’n eeu oud en in 2017-’18 bereik Santam en Sanlam dié mylpaal.

In daardie tydperk van ’n halfdosyn jaar – sê nou maar van 1912 tot 1918 – het aardskuddende dinge gebeur. Ná die Anglo-Boereoorlog, in 1902, was die Afrikaners ’n verslane volk, maar ’n dekade later beur hulle boontoe op ’n ongekende skaal.

Ons sou nie vandag kon praat oor Afrikaner-sake as dit nie was vir die erfenis van daardie gerf goue jare nie.
Ek was ’n Oos-Kaapse seun van 12 toe gasvrye Transvalers by wie ek gedurende die skoolvakansie gekuier het my saamgeneem het na die inwyding van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1949. Ek onthou hoe ek in die bloedige son in die amfiteater my verkyk het aan die skare (en nie veel van die baie toesprake ingeneem het nie).

Onder die sprekers was ’n hoogs bejaarde, ronde man met ’n dik bril en ’n diep, sonore stem. Van sy toespraak onthou die meeste van ons net die woorde: Quo vadis, Afrikaner, waar gaan jy heen?

Met die 175ste herdenking van die Groot Trek is dit gepas om weer die lig te laat val op die vraag wat dr. Daniël Malan, ’n volksorator as daar ooit een was, daardie dag gevra het – en sy toespraak ook te stel teenoor die digter-skrywer-filosoof, NP van Wyk Louw, in wie se eer die FAK hierdie lesingsreeks ingestel het. Louw stel ek aan u voor as die Afrikanervolk se gewete, ’n man met diepe insig wat die ligte gesel van die pen gebruik het om ongemaklike vrae aan die Afrikaner en sy leiers te stel, soos die kwessie van voortbestaan in geregtigheid.

Die afgelope 20 jaar het die Afrikaner-gemeenskap die grootste omwenteling sedert die begin van die Anglo-Boereoorlog in 1899 ondergaan. Ons sekuriteit en solidariteit is onder ons uitgeruk deur die afstanddoening van apartheid in 1994.

Vandag is dit maklik om Malan en die Afrikaner-leiers te kritiseer. Maar ’n mens moet altyd onthou om mense in die tydsraamwerk waarin hulle geleef het te beoordeel.

Luister net na die gewig en impak van Malan se boodskap destyds. Dis diep godsdienstig, gegrond op die verhaal van ­Petrus wat, vlugtend van vervolging, sy Heer ontmoet en ’n tweede keer verloën. As Petrus vir Jesus vra waarheen hy gaan, antwoord Hy: “Terwyl jy my die tweede keer verloën, gaan ek Rome toe om die tweede keer gekruisig te word.” Petrus het toe omgedraai en sy Heer gewillig laat kruisig.

Dr. Malan maak dié Bybelverhaal met die volgende hamerslae van woorde op die Afrikaner-volk van toepassing: “Hierdie monument staan hier vir die Voortrekkers se nagedagtenis en huldiging. Maar dit staan langs die Pad van Suid-Afrika ook vir u en vir u nageslag. Dis u quo vadis-heiligdom, Afrikaner, nou en deur al die toekomstige geslagte heen! As u wegdwaal van die Voortrekker-gees en -gedagte, as u die Voortrekkers wat u vandag huldig met die daad verloën en opnuut kruisig?.?.?. as daardie sielsdeursoekende vraag hom dan aan u opdring: Afrikaner, quo vadis, waar gaan jy heen?

“Staan dan stil, en draai terug! Terug na u volk; terug na u volk se hoogste ideale; terug na die pad wat ook aan u toevertrou is om te bewaar; terug na die volksaltaar waarop u ­offers moet lê, en as dit geëis word, ook uself as ’n offer­ande...”

Ná daardie lofwaardige woorde moet ’n mens ook die konteks onthou waarteen die eerste minister leiding gegee het. Sy woorde net vóór dié roerende slot was: “Wat dreigend voor u staan, is niks minder nie as moderne en uiterlik beskaafde heidendom sowel as versinking in semi-barbarisme deur bloedvermenging en die disintegrasie van die blanke ras.”

Dr. Malan het destyds namens seker 90% van wit mense in Suid-Afrika gepraat. Hy het ’n beleid onderskryf wat gebou was op naakte blanke baasskap en wit oorheersing. So kort ná die uitwissing van die Nazi’s se rasse-orde, het die Afrikaner jou waarlik ’n nuwe orde van wit oorheersing ingevoer in die naam van apartheid, later verbloem met eie-selfstandigheid en ander eufemismes vir skeiding.

Tog was daar lank vóór 1949 profete wat getwyfel het aan ’n beleid gebou op oorheersing van die minderheid oor die stemlose meerderheid.

NP van Wyk Louw was sekerlik die prominentste Afrikaner-denker van sy tyd. Hy het betoog: ’n Krisis vir die Afrikaner-volk sou wees as ’n groot deel van ons mense daaraan sou begin twyfel of ons as volk moet voortbestaan. ’n Tweede fout sou wees as ’n groot deel van ons volk sou meen ons hoef nie in geregtigheid met ons mede-volke in Suid-Afrika saam te leef nie. Hierdie voortbestaan in geregtigheid was die leitmotiv van Louw se denke oor die voort­bestaan van die Afrikaner.

Oor onderlinge omgang skryf hy: “Ons sal eenvoudig moet leer – of geleer word – wat die stel reëls is waarbinne ons mag praat oor ander volke wat ons landgenote is, en die reëls van wat die uiterste grense is waarbinne ons mag optree wat hulle betref.”

Oor die geregtigheidskwessie is ons deur die wêreldmening skuldig bevind. Dis waarom ons in 1994 self deelgenote was aan ’n nuwe bestel. Dié besluit het ons geleidelik ons tradisionele wydsheid van ruimte ontneem. Ons is ons selfbeskikking in ongeregtigheid kwyt deur een van die groot strominge van die moderne wêreld: anti-rassisme.

U weet wat is ons rol in die huidige Suid-Afrika. Ons is ’n minderheidsvolk in ’n oorwel­digende meerderheid wat ons eintlik net duld. Ons het nie meer ’n kitaar om te slaan nie.

Hoe hanteer ons die situasie?

Duisende het al die land verlaat en dis ’n groot tragedie. Vir ons wat nie wil trek nie, vir ons wat die grondwetlike waardes van die Grondwet deel, is daar twee opsies: Aanvaar as wetsgehoorsame burgers die verkragting van die Grondwet, die reg en ons vryheid. Of staan wakker en mobiliseer teen alle vergrype van ons burgerregte.

Ek skat nie almal hier het mooi dinge te sê oor oudpres. FW de Klerk se besluit tydens sy ampstyd nie, maar die beste ding wat hy in my oë sedert daardie tyd gedoen het, is die stigting van die Sentrum vir Grondwetlike Regte. Dit word professioneel bedryf en werk ten behoewe van alle burgers van die land.

Daar is ook ander instansies soos Solidariteit en liggame wat veg vir die reg op Afrikaans in die onderwys. Ons probeer in die media Afrikaans uitbrei, soos met kykNET, Afrikaanse koerante en tydskrifte, Afrikaanse boeke en Afrikaanse feeste met ligter en swaarder dinge.

Ek sien in die FAK se besluit om die Voortrekkers van 175 jaar gelede te herdenk ’n embrio van ’n nuwe samehorigheid onder Afrikaners van alle kleure en herkomste. Die gerf herdenkings wat voorlê om skeppings van 100 jaar gelede te herdenk, sal daardie same­horigheid stukrag gee.

My wenk, sou u vra wat óns dan kan doen, is eenvoudig: Ons kan en wil nie onderhoriges in ons eie land wees nie. Kom ons dra by. Sluit aan by of steun net een item van belang vir ons gesamentlike voortbestaan. Ons deel hierdie strewe vrywillig met ander.

Laat ons ’n konstruktiewe bydraer wees tot ’n beter en onkreukbare samelewing. Versterk dít wat ons toekoms op vaster voet plaas.

Ons het ’n oop gemeenskap en moet daarom Van Wyk Louw se woorde onthou: “Die oop gemeenskap, die ware demokrasie, moet jaloers waak oor sy oopheid.”
* Ton Vosloo is lid van die direksies van Naspers en Media24. Hierdie is ’n geredigeerde weergawe van die NP van Wyk Louw-gedenklesing wat hy Donderdag by die Voortrekker­monument gelewer het. 
Maka Drama Junie 16, 2013 om 00:17
Goeie balans.
Piet Van Der Riet Junie 16, 2013 om 10:59

As een van die Afrikaners wat besluit het om die land te verlaat het hierdie artikel weerklank by my gevind, maar ongelukkig het ek 'n paar vals note in hierdie simfonie gehoor.
Die skrywer besing die feit dat "Ons probeer in die media Afrikaans uitbrei" maar as 'n mens Naspers en Media24 (van wie die skrywer 'n direkteur is) bel word jy in Engels begroet, en verskeie kere is 'n vraag van my in Afrikaans in Engels beantwoord.

Kan ek dan ook die vraag van die skrywer vra "Quo Vadis Naspers en Media24 ten opsigte van Afrikaans in julle werkplek ?
Marthinus Nel Junie 16, 2013 om 11:41

Ton Vosloo, kan jy my aub sê uit welke van Louw se omvangryke oeuvre dié aanhaling kom.
Thys Human Junie 16, 2013 om 13:40

Ek het lank gehinkenpink of ek op 'n oud-kollega en eintlik 'n destydse joernalistieke vriend moet reageer, maar, soos ou Luther, kan ek nie anders nie.

Ton se idee om die huidige herdenking aan DF Malan se "quo vadis"-vraag te koppel het meriete en enkele waarheidsmomente indat van die dinge wat Malan gese het nou werklikheid geword het en die vraag soveel te meer dringend is.

Maar in sy betoog maak Ton minsten 3 feitefoute en ook 3 denkfoute wat sy boodskap ongelukkig laat skipbreuk ly.

Feitfout 1: Die NP van '48 se beleid was nie "baasskap" nie. Ton weet net so goed soos ek dat die konsep van apartheid sy beslag in die Sauer-kommissie gekry het en die kernwoord wat daar gebruik is, was "voogdyskap" wat in die kommissie se bevindinge self uitgestippel is na aparte vryhede vir die verskillende volkere - en "ontvoogding" van daardie voogdyskap. Die term "baasskap" was dalk in die agterkop van enkeles - as ek reg onthou het selfs Hans Strijdom dit gebruik - maar eintlik was dit die NP se vyande en veral die Engelse pers en trawante wat dit daardie skelnaam gegee het.

Feitfout 2: "daar is in 1994 van apartheid afstand gedoen". Dis doodgewoon nie waar nie - daar is reeds in 1983 amptelik en formeel van apartheid afstand gedoen met die aanvaarding van die nuwe bedeling se grondwet in 'n referendum. En eintlik is daar al in die laat sewentigs afstand daarvan gedoen toe PW Botha en die Kaapse kliek beheer van die NP oorgeneem het op bedrieglike en onderduimse wyse.

vervolg
Thys Human Junie 16, 2013 om 14:02

Feitfout 3 en denkfout 1: "... die FAK se besluit om die Voortrekkers te herdenk (is) ’n embrio van ’n nuwe samehorigheid onder Afrikaners van alle kleure en herkomste."

Daar bestaan nie so iets soos "Afrikaners van alle kleure" nie. En het nooit bestaan nie. Bruines wil nie Afrikaners wees nie - selfs wit Afrikaanssprekendes - veral in die Kaap - ook nie!

Die feitefout spruit uit die denkfout dat almal wat Afrikaans praat Afrikaners is. Dit is 'n politieke EN 'n volkekundige denkfout. En daar is geen samehorigheid nie!

Denkfout 2: Van Wyk Louw het wel vrae gestel, maar dit was nie wat die Afrikaner laat vou het nie. Dit was die godsdienstige aanslag van Heyns en Bey Naude en kie tesame met die politieke sluhede van Pik en PW en toe gesteun deur die lamsakkigheid van 'n handvol akademici en 'n magsugtende Naspers wat die ondergang van die Afrikaner beklink het.

Denkfout 3 (en selfs 'n feitefout): "Laat ons ’n konstruktiewe bydraer wees tot ’n beter en onkreukbare samelewing....Ons het ’n oop gemeenskap en moet daarom Van Wyk Louw se woorde onthou: “Die oop gemeenskap, die ware demokrasie, moet jaloers waak oor sy oopheid.”

Ons het NIE 'n oop gemeenskap nie - ons het eerder een van die mees geslote en bekrompe gemeenskappe ooit.

En die bewindhebbers stel nie in die minste belang in ons "konstruktiewe" bydrae nie - jy aanvaar hulle en stem vir hulle of jy is uitgewerp in die buitenste duisternis.

Jammer, Ton, maar jou feite en denke skiet ernstig te kort!
Marthinus Nel Junie 16, 2013 om 14:21
Thys Human, kosbare kommentaar van jou!

Jy sal opmerk dat ek nog nie 'n antwoord op my bostaande navraag ontvang het nie - dit kan tog nie so moeilik wees as die toespraak só onlangs geskryf en voorgedra is nie...
John Vorster Junie 16, 2013 om 16:56

Pragtige woorde gebaseer seker op werklike gebeure in ons geskiedenis. sou os die voorstelle aangryp, doens dit klaar as 'n verslane volk en as onderdane! Daar word gepraat dat geloof in enige land eintlik oorlog beteken en daarom reserveer my respek vir 'n land soos Israel! Mens verkoop nie jou siel en DIT wat jou trots maak om mens te wees nie! Die aanhoudende gekarring van hogere mense in die Suide om ond klaarblyklik geestelik voor te berei om alles te aanvaar en kulture te aanvaar en deel te word is 'n resep vir die gewone wit Afrikaner om uitgewis te word!
Marthinus Nel Junie 16, 2013 om 17:35

John Vorster, jy moet jou gedagtes eers góéd agtermekaar kry vóór jy dit op "papier" sit en vergeet tog van die Jode en hul onland - die Afrikaner het meer aanspraak op 'n eie land as wat hulle óóit sal hê!
Marthinus Nel Junie 17, 2013 om 08:34

Ek sou régtig wou weet waarom Cathy Kotzé se kommentaar knaend verwyder word. ****** [Sien Rapport se kommentaarbeleid - webred]
Thys Human Junie 17, 2013 om 11:20

Ek kan nie onthou dat ek iets daarin gesien het wat aanstoot gee nie - behalwe kritiek op Naspers.

En ek het haar 'n opduimpie gegee! **** [Billike kritiek teen haar gasheer op wie se blaaie sy rondkuier kan nog toegelaat word, maar nie persoonlike beledigings teenoor skrywers nie. Weer eens, verwys asseblief na Rapport se kommentaarbeleid - webred.]
Cathy Kotzé Junie 17, 2013 om 17:08

Toemaar, ek was elders ook in die dog box omdat ek volstaan by die feit dat dit onmoontlik is om oud pres. Mandela te skei van die ANC.
Marthinus Nel Junie 17, 2013 om 21:16

Thys & Cathy, Ek het toe, soos aangeraai deur "webred", "Rapport se kommentaarbeleid" asook die kommentaar dáárop gaan lees en tot die gevolgtrekking gekom dat hulle eenvoudig baie korter en bondiger kon gesê het: "Ons kommentaarbeleid is politieke korrektheid."

Uit die kommentare in die algemeen sowel as die bogenoemde kommentare in die besonder, is dit vir my baie duidelik dat daar 'n loskoppeling (disconnect) tussen Rapport en (minstens) sy aanlynlesers is.
Dit herinner my 'n bietjie aan die verskynsel waar 'n rugby- en/of sokkerklub die ondersteuning van sy ondersteuners verloor - almal wéét waar dít gewoonlik eindig...

Dit is ook téén "webred" se beterwete in dat hy/sy te kenne gee dat "'n (aanlyn)leser 'n gas is wat goedgunstiglik in 'n webtuiste mag kuier" - die stelsel van trefslae, advertensies, diensverskaffing, en dies meer beteken dat daar weldeeglik betáál word, al is dit onregstreeks.

Ten slotte weerhou ek my daarvan om te verwys na fundametele menseregte soos vryheid van meningsuiting, demokrasie en doodgewone ferplie ;-)
Thys Human Junie 17, 2013 om 21:33

Ek dink jy is baie reg - veral daai deel oor die "disconnect"!
christiaan.potgieter.3 Junie 17, 2013 om 22:50

Jare gelede is 'n bekende groot strydros minister van die NP genooi om in die kerk na die diens te vertel hoe hy sy christenskap in sy amp en die politiek uitleef. Almal, hy inkluis het geweet dis een groot "charade", hy was nie 'n christen nie, maar 'n dronkgat. Almal het egter saamgespeel.

Die artikel/toespraak van Ton het my daaraan laat dink. Hy gebruik die regte woorde, maar stel hy werklik belang in Quo vadis, Afrikaner? Ek twyfel. Daarom al die feite en denkfoute Thys. (Ter loops, ek het nie 'n probleem as party ouens nie christene is nie, of hulle losmaak van die Afrikanersaak nie. Ek het wel'n probleem met charades).