Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Thursday, December 25, 2014

GETUIENIS

Kersfees – die geboorte van Jesus Christus


Op 25 Desember 2014 herdenk ons die geboorte van ons Redder, Jesus Christus. Dit is ‘n tyd van die jaar waar vrede en rus oor byna die hele wêreld verkondig word. Ons vergeet egter dat die groter waarhede van die geboorte van die Here Jesus Christus gereeld ontken en verloën word. Kom ons kyk daarna:
Die Bybel (Matt 1:18; Luk 1:26-38) leer ons dat Jesus Christus deur die werking van die Heilige Gees in haar verwek is en dat Jesus se moeder, Maria, ‘n ongetroude maagd was toe Hy gebore is. Daar was dus nie ‘n man betrokke soos wat dit by enige van ons gewone aardse sterflinge die geval is nie.
Dit is een van die strydpunte want die maagdelike geboorte is een van die feite wat geleerdes ontken of nie aanvaar nie. Hoe so? Hier raak dit nou interessant, want daar is baie mites (stories oor die heidense gode) in die antieke wêreld gewees wat juis daarvan getuig dat mense kinders gehad het saam met die gode. Die doel van hierdie mites in die antieke was om te verklaar waarom ‘n spesifieke persoon uitsonderlike vaardighede of eienskappe gehad het.
‘n Pragtige voorbeeld is díe van Helena vanTroje. Volgens die mites van daardie tyd was sy so pragtig omdat haar moeder self ‘n pragtige vrou was wat deur die oppergod, Zeus, verlei is toe hy in die vorm van ‘n swaan aan haar verskyn het. Haar “goddelike afkoms” word dus gebruik om haar pragtige voorkoms te verduidelik. Dieselfde soort mite is gebruik om die buitengewone vegvermoëns van die Griekse held Achilles te verduidelik. Hy was ‘n buitengewone vegter wat volgens oorlewering min of dalk selfs nooit gewond is nie. Daarom het die mense (later van tyd) begin vertel dat sy moeder hom as baba in die Styxrivier gedompel het terwyl sy hom aan sy hakskeen vasgehou het. Dit sou kwansuis veroorsaak het dat hy onverwondbaar was, behalwe vir sy hakskeen waar sy ma hom vasgehou het. Dit was sy swak punt wat volgens ‘n deel van die mites sy ondergang was omdat hy met ‘n pyl deur die hakskeen geskiet is, en daarna doodgemaak is.
Op ‘n soortgelyke manier – so beweer sommige geleerdes – moet ‘n mens die “mites” oor Jesus Christus in die Bybel verstaan. Die basiese argument  wat sommige teoloë van ons tyd volg is dus dat die Bybelse waarhede oor Jesus Christus nie letterlike en historiese waarhede is nie, maar dat dit juis mites is – stories wat probeer verduidelik het hoe en waarom Jesus Christus so ‘n besondere persoon was. Dit sou dan inpas by die res van die mites van daardie tyd.
Die teendeel is egter ook moontlik, naamlik dat die almag en wysheid van ons Hemelse Vader juis hier ter sprake kom. Hy is almagtig, en daarom kan Hy Christus uit ‘n maagd gebore laat word wanneer Hy dit so verkies. Hoe sou Jesus vir ons sonde kon sterwe – en die hel oorleef – indien Hy slegs ‘n gewone aardse mens was soos ons sterflinge? Indien hierdie feite alles mites is, kon Jesus nie vir ons sonde gesterf het nie, en kon Hy nie in ons plek in die hel ingegaan het nie.
Die Vader is verder wys en genadig wanneer Hy dit juis so laat gebeur dat die mense van daardie tyd dit maklik kan verstaan. Hy gee immers vir hulle met die verwekking en geboorte van Jesus Christus ‘n verstaanbare en aanvaarbare belewenis wat ooreenstem met hulle kultuurwêreld. Sodoende is die Evangelie juis weer waar: God het tussen ons mens geword om ten volle vir ons sonde aan die kruis te kan sterf.
Skakelbeampte
Calvinistiese Alliansie


30 thoughts on “Kersfees – die geboorte van Jesus Christus

  1. Die taal van die Bybel laat niksvermoedende lesers vermoed dit beskryf menslike historiese gebeure, in werklikheid verwys dit na antropomorfismes van hemelliggame.
    Kersy Graves maak in sy boek The World’s Sixteen Crucified Saviors melding van 16 voorbeelde van gekruisigde Gode, van voor die koms van Jesus. Hierdie Gode sou vir die sondes van die mens betaal met hulle kruisdood. Van die bekendste voorbeelde wat Kersey noem van gekruisigde Gode is Krishna, Boeddha Sakia, Tammus, Quirinus, Prometheus, Indra, Mithra, ens.
  2. Om n datum te Koppel aan Vader Yahwehshua se geboorte is verkeerd want nerens in die Woord se hulle dat Vader op die 25ste Desember gebore is nie – Dis n oorlewering deur mense – Vader se Woord leer ons net om die Sabbatdae te heilig en sekere feeste te hou en ons Blanke Boerevolk het ook n Belofte aan Hom gemaak op die 16 de Desember 1838 wat ons moet eer want beloftes maak skuld en ek glo dat Vader vir ons kyk om te sien of ons nogsteeds die belofte gestand doen
    • Rens, ek moet met jou saamstem oor die geboortedatum, maar wonder na watter dag jy verwys as jy praat van die Sabbat? Dis natuurlik ‘n onweerlegbare feit dat volgens die Bybel is Saterdag die Sabbat. Die Christene het egter keiser Konstantyn se edik rondom die jaar 300 aanvaar dat Sondag die “dag van die Here” is. Hy wou al die verskillende heilige dae wat daar was, op een dag bymekaar bring, maar soos ons weet het die Jode hulle nie daaraan gesteur nie -blykbaar net die Christene en die Mithraiste (die Islams was natuurlik toe nog nie daar nie).
      Die probleem was egter dat die Christene – en veral ons Afrikaanse kerke – toe die Sondag op ons afgedwing het as die sabbatdag. Ek onthou dat ek as kind, nie eens toegelaat was om op die “sabbat” te swem of enige sport te speel nie. En die NP-regering van daardie tyd het selfs ‘n wet gemaak om “Sabbatsontheiliging” strafbaar te maak. Dit was eers baie later dat ek uitgevind het dat die bepaling van Sondag as die Sabbat onbybels is – maar toe het ek lankal die Christelike geloof afgeskud. Maar dit grief my steeds dat ons so “gestraf” was op totale skewe en onbybelse gronde.
    • Rens, in 221 het die Katolieke geskiedskrywer Sextus Julius Africanus voorgestel om Jesus se geboorte op 25 Desember te vier. Hy was ‘n aanhanger van Mithras, maar is tot die Christendom bekeer. Die geboortedatums van Mithras en Jesus sou dan saamval. Die biskoppe van daardie tyd was egter meestal gekant teen die viering van Jesus se geboorte. Pous Julius I het in 330 ‘n edik uitgevaardig wat bepaal het dat 25 Desember moet dien as geboortedag van Jesus. Hiermee wou hy aan hierdie dag ‘n ander betekenis gegee. Nie die Son nie, maar Jesus was die ‘Onoorwinlike Son’ (Sol Invictus) en die ‘Son van Geregtigheid’ (Sol Justitiae) en die ‘Lig van die Wêreld’. Op 25 Desember 335 het die eerste Kersviering in Rome plaasgevind ter herdenking van ‘Jesus se geboorte’.
      • Henkst, nogal interessant hoe daar rondom die jaar 300 ‘n hele klomp dinge in die Christendom plaasgevind het wat tot vandag onvermydelike gevolge het. Benewens die goed wat jy hier noem en ek aangehaal het oor die Sabbat, was daar natuurlik die Beraad van Nizza (Niceae) in 326 (as ek reg onthou) waar onder meer die evangelie van Matteus as kanon aanvaar is. Wat baie min mense weet is dat daar meer as 40 verskillende weergawes van Matteus was waaruit die ou klompie biskoppe moes kies – en hulle het toe stuk vir stuk gestem vir die weergawe wat vandag aan ons aangebied word as die onfeilbare W v G.
    • @ R&R,
      “…….ons Boerevolk het ook n Belofte aan hom gemaak”
      Inderdaad n swiepende veralgemening.
      My draad op ‘Die versoeningspoging het misluk’ – verwys.
      Neem kennis dat met die slag het nie alle trekkerboere die gelofte afgele nie.
      So. Indien die Roodts ( of enige van jou voorsate ) by wyse van mond of daad WEL aan die slag deel geneem het……kan jy rustig slaap – want SELFS DAN is jy nie moreel aanspreeklik of ‘gebonde’ nie.
      Dis bloot n wil en uit vrye keuse dat u ter herdenking jou met die gebeure assosieer.
      Niks meer en niks minder nie.
      Ruiter ( Grens tog nou nie verder nie. )
  3. Daar is heelwat kerklike dogmas wat gebaseer is op die een of ander byvoeging, waninterpretasie of wanvertaling van sekere Bybelgedeeltes. Vergelyk in verband hiermee die dogma aangaande God Drie-enig (1 Johannes 5:7) en die beweerde voorspelling van Jesus se maagdelike geboorte in die Ou Testament (Jesaja 7:14). Deesdae is daar nog steeds pogings om mense te “straf” omdat hulle nié bereid is om sekere regeringsgesinde (en grootliks polities-geïnspireerde onbybelse) kerklike dogmas te aanvaar nie. Vergelyk in verband hiermee die berugte Belydenis van Belhar…
  4. Dit is die ongelukkige waarheid van die Bybel dat verleiding altyd met ons sal wees. Die bewyse is in sowel die Bybel as in die lewe rondom ons merkbaar vir wie daarna oplet.
    Geloof is bloot dit: ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.
    ons moet onthou dat ons is op aarde, God is in die Hemel;
    ons moet vir geen oomblik dink ons kan Sy volle raadsplan insien of selfs verstaan nie.
    Verder is sinnelose argumente en twisvrae van geen nut nie en word ons juis daarteen gewaarsku.
    daarmee word ernstige en opregte Bybelstudie geensins ontmoedig nie;
    ook is dit geen verskoning om weg te skram van lering en vermaning nie!
    dit waarsku wel teen nuuskurige ondersoek, teen Skrifkritiek wat uit ongeloof spruit.
    Ten slotte gee die brief aan die Romeine vir ons waardevolle leiding rondom allerlei wettiese beskouings van vieringe en dae en rituele.
    wie dit opreg vier, met ‘n gesindheid van gelowige onderdanigheid, doen dit tot stigting;
    wie dit verhef tot die sektariese “plus”, doen dit tot hul eie en ander se nadeel en verwarring.
    In die woorde van menige gelowige, opregte kommentators moet mense ophou om allerlei bedinksels en interpretasies te Koppel aan die Bybel, en bloot toelaat dat die Bybel self spreek – wie so gelowig met die Bybel omgaan sal die ware, eenvoudige maar ook wonderlike en ondeurgrondelike waarheid leer ken.
  5. Joffre, jy kom voor as ‘n baie opregte en gelowige mens wat net glo dat wat hy glo eg is en ek wil jou nie uit daardie geloofskokon ruk nie. Maar kan jy dan asb. net vir my Levitikus 21, veral so van vers 16 af verduidelik. Want jy sien, Joffre, soos ek dit in my eenvoud en onkunde lees se^ dit dat God nie hou van gebreklikes, blindes, mense met vervormde gesigte of veluitslag, ensovoorts nie. Maar dan lees ek ook dat God almagtig en alwetend is en dan wonder ek hoekom hy toegelaat het dat daar mense met vir hom afstootlike gebreke gebore word. Hoe dan nou, Joffre – of is dit weer een van daardie onverstaanbare goed – behalwe dat wat daar staan baie, baie duidelik is?
  6. Vryburger, waarom plaas julle nie my kommentaar nie? Soos elke mens soekend is, is ek ook. Wat verhinder julle om in gesprek te tree met mense wat inligting soek? As dit nie is wat julle beoog nie, waarom dan net plasings plaas wat julle as Afrikaner Christene “modereer”, terwyl dit juis gaan om mense soos ek as ateïs inligting te gee wat die “Skrif” weer moet lees om dit te verstaan. Terloops as vorige christen het ek geworstel met dit wat ek voorheen probeer plaas het. Beste wense. Johann.
  7. Kersfees word al vir baie duisende jare gevier, selfs baie duisende jare voor die ontstaan van die Christendom. Ons Germaanse voorouers het die fees ook gevier, onder die naam JOEL. Joel was in die Heidense tyd n twaalfdaagse fees, wat begin het met Midwinter (of Sonwending). Sonwening het volgens die Juliaanse kalender op 25 Desember geval. Dit was die allerbelangrikste fees van ons Heidense voorouers, want die fees dui die punt aan waarop die winterson wend en die dae langer word. Die donker winter word verdring. Die lig keer terug en word dus herbore.
    Met die koms van die Christendom, word hierdie topfees van die Heidene oorgeneem en gekersten. Hy kry n nuwe naam onder die Suidelike Germane naamlik Kersfees, maar in die Noorde van Europa het die ou naam Jule of Joel behoue gebly tot en met vandag!
    Die Christene annekseer dus hierdie hoogfees/vredesfees en omvorm dit tot Geboortedatum van Jesus!
  8. Dit is duidelik uit die bostaande artikel dat die meeste godsdienste maar dieselfde maatplaat (template) gebruik (het), só ook volkere – iets wat Friedrich Nietzsche se Zarathoestra in sy XV. THE THOUSAND AND ONE GOALS duidelik raakgesien het:
    http://www.gutenberg.org/files/1998/1998-h/1998-h.htm#link2H_4_0020
    Die tyd het egter aangebreek dat die (jong) Afrikanervolk moet besef dat hy nie vir ewig & vir altyd kan gebruikmaak van ‘n ander volk se mitologie nie en dat ons eie Afrikanermitologie sterk genoeg is om op eie bene te kan staan – ons het ons eie land (gehad), ons het ons eie taal en ons het (eintlik) ons eie godsdiens.
    Al die BMWS* wat ons in die geskiedenis van die Christendom sien, kom eintlik op die rekening van die Rooms Katolieke Kerk en nié die Christendom as sodanig nie.
    Wáre Christenskap gaan uitsuitlik oor ‘n persoonlike verhouding met ‘n persoonlike God en gevolglik hoef ‘n mens nie ‘n Christen te wees om ‘n Afrikaner te wees nie – selfs die oorgrote meerderheid Jode glo nie in hul godsdiens nie, maar dit maak hulle niks mínder Jode nie.
    *BMWS: Bedrog, Misleiding, Wanvoorstelling, Swendelary
  9. Netjies gestel Petrus P. Dit het ons ‘n taamlike ruk geneem om uit te vind dat nie alle witmense wat Afrikaans praat, wel Afrikaners is nie. Danksy die optrede van mense soos Max du P, Koos Kombuis, Kopdoek Coukramp en ‘n paar ander het die boodskap egter seker nou behoorlik ingeslaan.
    Maar ons mense sukkel nog om te verstaan en te aanvaar dat nie almal wat hulself nog as Afrikaners beskou, Christene is nie. Daar is selfs ingeligte en verstandige mense wat loop en se dat jy net ‘n Afrikaner kan wees as jy ‘n Christen is. Dis soos om te se^ dat alle Duitsers, Hollanders, Franse en selfs Italianers Katolieke is en moet wees. Dis waar dat die meeste Afrikaners wel een of ander vorm van die Christelike geloof aanhang, maar baie lankal kan alle Afrikaners as Christene bestempel word nie. Van ons grootste skrywers soos Leipoldt, Eugene Marais, Van Wyk Louw, ens. was beslis andersdenkendes.
    • @ Thys,
      Wat wou ! ( Meen te se jy mik so bietjie laag…..)
      Op hierdie volksblad is Afrikanerskap jou reeds ontneem as jy nie saamwals met die broers en susters van Sion / Israel nie. Inteendeel – ‘Afrikanerskap’ opsigself is inderwaarheid n reedse vervloeking. Dat n ander dialek vir diegene wat n naelstring-verbintenis tot in Israel het, nog nie reeds gestalte gevind het nie…….gaan my verstand te bowe !?
      In kort. Praat jy nie die Ja whe ‘jargon’ nie, is skuiling by die diepseekrappe se grotte u nie beskore nie.
      Blote Christenskap speel n sekondere rol. Daai genealogiese / magiese ‘naelstring’ waarop sekeres (aanmatigend so) roem….. is waaroor die Boere-ding gaan. Basta met die res.
      70% vd lot ( sommige met hogere range ) sal jy vind ‘rejoice’ soos n ot in modder daar op vaandel.co.za.
      Eweneens sal die rits name soos deur jou vermeld ( voeg maar Langhenhoven ook by ) geensins beindruk nie. Hul dra immers reeds (as vermofde vrymesselaars en ‘verloopte Afrikaners) – swaar aan die albatros om hul nek.
      Die genetika van ons volkie sien dus as volg daar uit :
      boer vs Boer
      Christen vs Die Uitverkorenes v Sion
      Christen en Sionsbende vs nie gelowiges
      Afrikaner vs Super bloubloed Afrikaner ( sien Boer )
      Dat die lot mekaar nog steeds in Afr kan ‘vind’ – verstom my.
      PS.
      Dat naffer se kind hiertydens dus deur die vensters klim……daarenteen nie. Wie sal so n situasie van verdeeldheid nie tot sy ‘voordeel’ aanwend nie !?
      Maar hy ! Laat ons samba op die maat van Ja Nee en Ja We.
      Ruiter [ diep bedroef ]
      PS.
      Verwag geen repliek op jou skrywe nie. As die Howitzers blaf – verdwyn van Wyk Louw se credo van n ‘oop gesprek’…..soos mis voor die son.
      • @ Thys
        Kan ‘n gewone mens ooit op ‘n beter repliek hoop as die bostaande, met/sonder honne-/Howitzergeblaf?
        Helaas…eweneens bedroef.
        touleier
      • Die Hebreers het die antieke Egiptiese god Aten toendertyd hulle eie god gemaak en noem hom tot vandag toe nog JHVH. Hierdie god word deur die Hebreers as hulle eie eksklusiewe god beskou. Hulle gun hierdie god vir niemand anders nie. Daarom beskou die Hebreers hulleself as sy uitverkorevolk. My eie ondervinding in Tel Aviv: Die Israelis beskou ons mense as varke wat by hulle trog wil kom vreet. Wat mense soos dr Dan Roodt daar gaan maak gaan my verstand te bowe. Hulle sal nie die Boerevolk aanvaar nie.
  10. HDL*
    Ek het bostaande bydrae-met-kommentaar híér geboekstaaf (vóór dit verdwyn) vir toekomstige,geskiedkundige verwysing: http://mierleeu.blogspot.be/
    *HDL: Huil Die Leser
  11. Die meeste Boere het agter die keiser (NP en NG) aan gekloek.
Alla(h)wêreld!
Dat dié stoute, despotiese & indoktrinerende NP/NG broeders soveel verskillende menings kon moontlik maak as wat ek net tussen dié kommentare sien…
  1. Op 25 Desember 2014 herdenk ons die geboorte van ons Redder, Jesus H. Christus word geskryf. Maar dit kan mos nie waar wees nie? Ander gelowiges (heidene in die Boerevolk se mond) het op 25 Desember die geboorte van die son god Tammuz herdenk. Selfs menslike offers is aan ‘n Tammuz kruis op Romeinse manier aan die son god Tammuz ge-offer. Of is ek dalk verkeerd?
  2. In die Noorde is dit koud en hier vrekwarm oor Desember. So, laat families en mense maar bymekaar kom om te besin oor die oorsprong van lewe. Nie ‘n slegte gewoonte nie. Anders bly dit stellig net ‘n gejaag na roem en geld elke dag.
  3. As mens in ag neem hoe groot die heelal is, dat lig van ander sonnestelsels ons nooit sal bereik nie, dat selfs die Hubble-teleskoop in 2020 die einde van sy perke sal bereik het en ons kennis van afgeleë sonnestelsels daarmee tot ‘n einde sal kom, kennis wat selfs graad 8 leerlinge vandag het, dan vra ek myself af hoe almagtig en groot so ‘n “Godheid” moet wees as daar só iets is en dit alles sou geskep het. Hoe kan gelowiges dan gaan en die woorde en gebeure soos vervat in die Bybel, Kur’an of Veda aan Hom/Haar/Dit in Sy/Haar/Dit se mond lê? Die Bybel is geskryf deur filosowe van daardie tyd toe hul kennis beperk was, toe kennis van die heelal vandag hierdie filosofiese denke oor en oor weerlê het. Waarom kan gelowiges nie verder ondersoek instel oor hoe versoenbaar hierdie primitiewe denke is met vandag se kennis nie? Die denke van mense, en veral gelowiges, is ‘n funksie van die brein alleen. Sou iemand ‘n Godheid soek, doen dit dan ten minste in die “idioom” van vandag se kennis.
  4. Johann
    Soos ek dit sien is die Heilige Gees nie beperk in tyd en ruimte nie, betref krag en ook teenwoordigheid. Ron Avery, ‘n Amerikaanse argiteik, het, ‘n boek geskryf, Alien Physics, waarin hy die versoening van wetenskap en religie voorstaan. Daarvolgens het Jesus se oorwinnijng oor die dood implikasies wat ook nie beperk word deur tyd-ruimtegrense nie. Ek veronderstel dinge wat buite ons drie-dimensoinele wereldbeeld waar alles bewys moet word, le, is moeilik om te aanvaar. ‘n Mens glo en ervaar dit of nie.
    • Die antieke mense se TV skerm was die uitspansel, en hulle mites is gebaseer op die skynbare beweging van die son, maan, sterre en planete – lees Beyond the blue horizon: myths and legends of the sun, moon, stars, and planets by dr. Edwin C. Krupp
    • @ Ben,
      Jou laaste sin ( 8 woorde ) verwoord die kruks vd aangeleentheid ten volle.
      Ek het dit teen die subtiele wyse van insypeling deur sommiges om met n vroom gevreet en n aura van misplaasde eie importansie…. volksvreemde stront in my hare te wil kom indraai.
      En die oomblik as ek nie wil ‘sluk’ nie – is ek verloop of verlep.
      Lsg vat ek net as dit van my vrou kom.
      Groete.
      Ruiter.
      PS.
      Ben Brand was Ruiter in Swart dan nie ? Moenie dat Vryburger Creek te klein raak vir twee van ons Ruiters nie. Het reeds my hande vol met n ‘Amish’-rampokkerbende. Met vlae wat wapper en Afrikaner boere-bloed in hul Mauser visiere…..kos dit kophou.
    • Beste Ruiter
      Ek dink beide jy en Ben huiwer so op die randjie van ‘n lewensbelangrike denkdeurbraak, te wete die deurbraak waar ‘n mens duidelik onderskei tussen begrippe soos “geloof”, “godsdiens”, “kerk” en “religie” – nie een van die begrippe is gelyk aan (=) die een/die ander van hulle nie of omgekeerd.
      Die oomblik wat ‘n godsdiens “verklaarbaar” raak, is dit nie meer godsdiens nie, maar wetenskap.
      “Geloof” is nie gelyk aan “godsdiens” nie, want ‘n mens kan ook geloof hê in jou self, jou volk en selfs die wetenskap, ens.
      ‘n Mens kan eweneens godsdienstig wees sonder veel geloof daarin en in die meeste kerke is daar vandag weinig sprake van godsdiens.
      Persoonlik is my geloof in beide godsdiens én wetenskap ewe beperk – nie eers gepraat van die politiek nie.
  5. Ben nou wanneer het die sg. Heilige Gees sy opwagting gemaak? Die dinasorusse het die aarde bewandel vir 170 miljoen jaar voor die mens sy verskyning gemaak het lank daarna. Evolusie moes eers sy verloop neem voordat die mens ontwikkel het in sy huidige vorm.
    Jy sal baat vind deur Dawkings se boek: The Selfish Gene, te lees. Volgens my navorsing bestaan daar nie its soos ‘n Heilige Gees nie, dit is eerder geleë in die brein se vermoë om spiritueel te kan funksioneer, behoorlik en oortuigend uitgewys deur navorsing. Die vroegste mens het geglo aan “totems” wat uit verskeie voorwerpe bestaan het. Al gehoor van die Neanderthals? Die sg. Heilige Gees is ‘n skepping van die Katolieke Kerk sommer onlangs gelede as mens dit meet aan ongeveer 170 000 jaar gelede wat ons spesie sy verskyning deur evolusie gemaak het.
  6. Wat Jesus en sy geboorte datum betref die volgende. Jesus is ook onder die Moslems bekend. In die Koran word hy herhaaldelike kere vermeld. Maar hy is slegs n profeet van God, naas die hoofprofeet Mohammed. Die Koran beskou Jesus nie as die SEUN VAN GOD nie.
    Die Moslems vier ook nie die geboorte datum van Jesus nie, terloops ook nie die strefdatum van Jesus nie (jaarliks deur Christene op n VRYDAG gevier in die Europese lente). Waarom op n Vrydag?
    Die Bybel vermeld voorts geen geboorte datum of sterfdatum van Jesus nie. Wie is nou regste? Die Moslems of die Christene?
  7. In ‘n gesprek van hierdie aard moet ‘n mens aktief in gedagte hou dat dit vir alle praktiese doeleindes die Rooms Katolieke Kerk se dogma is dat mense wat nié ‘n lidmaat van die RKK is nie, nié ‘n Christen is nie en dit is gevolglik ook die verstekinstelling (default setting) in Europa, ten spyte daarvan dat die (sekulêre) Europeërs ‘n klein minderheid uitmaak van die 1,2 miljard Rooms Katolieke in die wêreld.
    As die 800 miljoen “Protestante” in die oë van die wêreld nie (RKK) Christene is nie, wil ek nie weet hoeveel “ligjaargrade” van verwydering daar tussen die handjievol “Afrkaner-Christene” en die middelpunt van die Christelike universum is nie…
  8. Johann
    Ek gaan nie in ‘n debat tree oor iets soos die Heilige Gees nie. Sommige wetenkaplikes is agnosties en ander se geloof word deur navorsing versterk. ‘n Mens moet ook oppas om nie van die intellek of brein ‘n god te maak nie. Paulus het lank terug reeds geskryf oor die Gees van vrede wat alle verstand te bowe gaan. Myns insiens beantwoord die verwysing na die gemelde argitek se boek in jou vraag: om ‘n ander styl te ontwikkel wat deur nuwe kennis beinvloed word.
  9. Johann
    Ek sou ook kon vra: as jy die komponis, wyle Arnold van Wyk, op ‘n eensame koppie erens in die Karoo sou moes raakloop, wat sou jy vir hom gese het? Monnike in kloosterkore honderde jare gelede het dalk meer van die oneindige verstaan in die drie note wat hulle geken het as ons slim mense van vandag wat nie eers ons eie kultuurerfenis ken nie.
  10. Die datum van die Geboorte van Die Seun van Die Seun van Die God van Abraham, Isak en Jakob is nêrens in Die Bybel opgeteken nie. Ook nie feit dat dit gevier moet word nie. Ook nie dat verjaarsdae enigsins vir enige-iemand gevier moet word nie. Om die waarheid te sê; wanneer daar in Die Bybel gepraat word van verjaarsdae word dit genoem in die konteks van heidene: Farao – GÉNESIS 40:20 en Herodes – MATTHÉÜS 14:6 en MARKUS 6:21 en negatiwiteit: PREDIKER 7:1, JOB 1:4 (Lees veral hoofstuk 3).
    In elk geval is die heidense kersdag vir hulle (die heidene) se sonafgod (satan). So ook die kersboom en alles wat saamval met die satansdag.
    Ns. sataniste Sien verjaarsdae as dae waarop mense gode word.
    Groete

    • @Transvaal Burger. Beide die beweerde voorspelling van Jesus se maagdelike geboorte in Jesaja én Sy beweerde status as beide volledig Mens én God, is ook nêrens in die oorspronklike weergawes van enige Bybelgeskrifte te vinde nie. Die ’83 weergawe van Jesaja 7:14 se verwysing na “jong vrou” i.p.v. “maagd”, is nader aan die betekenis van die oorspronklike Hebreeuse “ha almah”, terwyl die ’53 vertaling grootliks gebaseer was op die Latynse Vulgaat-Bybel wat deur die Rooms-Katolieke opgestel is. Die Katolieke het 1 Johannes 5:7 sommer heeltemal wanvertaal om hul gefabriseerde dogma aangaande God Drie-enig mee te regverdig!
  1. Geagte medelesers, dit is bykans ondenkbaar dat daar uit die geledere van ons lesers sulke on-Christelike uitsprake gemaak kan word teen Jesus Christus. Dit is onverantwoordelik en ‘n mens glo nie hierdie mense besef waarmee hulle besig is nie. Hulle is besig om die gesag van ons Hemelse Vader in twyfel te trek en Hom uit te tart. Ons as belydende Christene kan maar net vir hulle bid en hulle aan die Here opdra met die versoek dat Hy hulle genadig sal wees en ook dat hulle tot bekering sal kom en afwyk van hulle heidense gedrag, uitsprake en optrede. Ons het hulle nie nodig as lesers van Die Vryburger, wat ek glo, Bybel gefundeer is en die Lewende Woord van God met toewyding uitdra. Dit is inderdaad ‘n kwade dag dat ons as lesers die redaksie moet versoek om die “sulkes” te blokkeer?
    • @Gert. Dit is interessant dat hierdie eerste deel van die Belydenis van Belhar (http://www.kerkweb.org/node/1430) wat die dogma aangaande God Drie-enig verwoord, na géén Bybelvers verwys waarop dit gebaseer is nie!
      1. “Ons glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees wat deur sy Woord en Gees sy Kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die einde toe”.
      Die verwerping van “… die gedwonge skeiding van mense op grond van ras en kleur” waarna deel 3 verwys, het óók geen Bybelvers waarop hierdie voor die hand liggende politieke stelling gebaseer is nie.
      Dit is broodnodig om beide godsdienstige én politieke misleiding te ontbloot alvorens die ware vyande van die meeste Suid-Afrikaners geïdentifiseer kan word en daar doeltreffend weerstand gebied kan word teen hulle.
    • Gert, die dinge wat Jaco aangehaal het oor die “maagdelike” geboorte van Jesus is nie “aanvalle” op die Christelike God en Jesus nie – dit is bloot feitelike regstellings van die verdraaiings en misleidings wat sekere teoloe toepas om ‘n valse dogma aan julle te verkondig. Jy wil graag sien dat die Vryburger in die Bybel gefundeer is, maar as mense vir jou uitwys dat wat jy dink in die Bybel staan NIE daar staan nie, wil jy hulle verban en laat verwyder!
      Jaco, jou stellings oor Belhar en die gebrek aan enige Bybelverwysings om wilde stellings te bevestig, is nie alleen korrek nie, maar onthullend. Maar die NGK se hoofmanne neuk voort om hierdie politkieke pamflet aan lidmate te probeer afsmeer.
      Gert, as jy mense wil kritiseer, vat hulle vas oor Belhar – nie oor Bybelwaarhede nie!
  2. Alla(h)wêreld!
    Dat dié stoute, despotiese & indoktrinerende NP/NG broeders soveel verskillende menings kon moontlik maak as wat ek net tussen dié kommentare sien…
  3. Ek wil net meld dat ek bogenoemde reaksie geskryf het op hierdie kommentaar van Josef
    “December 26, 2014 at 7:08 am
    Die meeste Boere het agter die keiser (NP en NG) aan gekloek.”
    wat helaas, saam met ander kommentaar van hom verwyder is, maar by MIERLEEU geboekstaaf is.
Ongelukkig “kloek” die meeste Boere deesdae nog steeds agter die misleiers binne die Afrikaanse driesuster kerke, politieke partye soos die DA en ACDP en die Nasionale Pers massamedia…