Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Monday, April 14, 2014

JAN ABSOLUUT

Het jy sewe minute se voetskoene?


Jan parkeer sy motor, gooi vyf sent in die meter en gaan koop 'n onderbroek. Toe hy terugkom by die meter, merk by tot sy verbasing op dat daar net tien minute verstreke is. Hy het dertig minute met sy vyf sent gekoop en Jan is nie 'n man wat tyd verspil of geld mors nie.
Wat maak 'n man met twintig minute?
Jan besluit om dit nuttig te gebruik. Hy stap in die straat af.
Die eerste man wat by teëkom, is 'n Vrystaatse boer. "Môre, Oom!" groet Jan. "Môre," groet die oom. "Ken ek jou?" vra die oom.
"Nee," sê Jan.
"Nou hoekom groet jy my dan?" Jan dink 'n bietjie. "My naam is Jan."
"My naam is Herklaas."
"Môre, oom Herklaas."
"Môre, Jan."
"Ek wou oom Herklaas iets gevra het: hoe lank duur dit om 'n onderbroek te koop?"
"Nee, jy het my! Hoe lank?"
"Net tien minute. Weet oom Herklaas dan hoe lank dit duur om skoene te koop? Want, sien, ek het nog sewentien minute op my parkeermeter oor, en ek wil dit nuttig gebruik. Toe besluit ek ek gaan vir my skoene koop."
"Jou skoene lyk vir my nog redelik. Dra jy baie skoene?" "Nee, net twee."
Daarop het oom Herklaas nie 'n antwoord nie.
Jan loop verder. . Op die hoek van die straat staan 'n tante met 'n kollektebussie. Sy druk die blikkie onder Jan se neus en vra: "Wil u nie iets vir die Huis vir Bejaardes gee nie?" Jan dink 'n bietjie. "Ek het twee tantes en 'n ouma; vir hoeveel het julle plek?" Dit kan die vrou nie mooi verstaan nie. Sy skud haar kop. Jan stap voort.
By die volgende hoek keer 'n Engelsman hom voor: "Weet u hoe laat dit is?" vra die Engelsman aan Jan. Jan dink 'n bietjie. "Ja, ek weet," se Jan en stap by 'n skoenwinkel in.
"Ek wil 'n paar skoene koop," kondig Jan aan.
" Watter soort?" vra die verkoopman.
"Voetskoene," sê Jan.
Die man lag ongemaklik en kyk weg: "Maar alle skoene is voetskoene," sê hy. "0, nee," stry Jan, "jy kry ook handskoene."
Daarop het die man nie 'n antwoord nie. Jan kyk op sy oorlosie. "Maar ek het net sewe minute tyd. Het jy sewe minute se skoene?" Daarop het die man nie 'n antwoord nie, maar hy moet geluide maak, en hy vra: "Hoekom het u net sewe minute tyd?"
"Dan verstryk die parkeermetertyd." "0," se die man, en hy wys Jan 'n paar skoene. Jan tel die skoene op en vra: "Is hulle vars?" Die man verstaan nie mooi nie. "My ma het my so geleer: voordat jy iets koop, moet jy eers vra of dit vars is. Maar noudat ek daaraan dink, sy het net altyd groente gekoop, my ma."
"Sy het nooit skoene gekoop nie?" vra die man.
"Wat?" vra Jan. "In 'n groentewinkel!?" En verontwaardig storm hy daar uit en vertel vir almal hulle moenie hul skoene dáár koop nie, want die man is laf.

(Tant San, dis nie waar nie, ek het alles versin . .)


----------------------------------------------------------------------------------------

Jan blaas sy eie trompet


Ek weet nie altyd van daai groot woorde nie, soos Liewe Heksie sê; maar miskien is dit 'n FABEL of 'n LEGENDE, miskien is dit sommer stories, van Jan.
Jan stap in die straat.
Jan sien 'n winkel. In die winkel is daar 'n venster, en op die venster staan: SWOP SHOP — RUILWINKEL: ONS RUIL ENIGIETS VIR ENIGIETS.
Jan is leergierig, nuuskierig van aard. Jan eet nie alles vir soetkoek op nie. Jan is 'n Christenmens, en hy ondersoekalle dinge en soms behou hy die goeie.
Jan lees weer mooi wat daar staan: SWOP SHOP — RUILWINKEL; ONS RUIL ENIGIETS VIR ENIGIETS. Jan stap binne. Jan vroetel in sy binnesak en haal sy pen uit.
Jan vra: "Is u die eienaar van hierdie winkel?"
"Ek is. Wie is jy?"
"Ek is Jan."
"Kan ek help Jan?"
"Ja,ek dink so. Ek wil hierdie rolpuntpen ruil vir 'n trompet. Ek wou nog altyd 'n trompet gehad het. Ek weet 'n trompet kan nie eintlik skryf nie, maar 'n pen kan ook nie trompetter nie. Ek wil hierdie pen seblief ruil vir 'n trompet."
Die man kan sy ore nie glo nie. Hy dink aan duisende woorde om te sê, vroetel vinnig deur sy woordeskat, maar kry net een woord uit: "Hu?"
"Ek wil hierdie pen ruil vir 'n trompet seblief."
"Jy kan nie die pen ruil vir die trompet nie. Die pen kos tien sent, hierdie trompet kos honderd rand."
"Dis daarom dat ek dit wil ruil," se Jan. "Dit is 'n goeie ruil." Jan is 'n meester in die absolute logika.
"Maar, jy verstaan nie: die pen is nie naastenby soveel werd as die trompet nie!"
"Presies," sê Jan. "Dis waatom ek dit wil ruil." En Jan dink daaraan dat dit dalk 'n nuwe spreekwoord kan word: "Diepen is nie soveel werd soos die trompet nie."
Die man se bene word lam. Hy soek 'n stoel. Hy kyk en bly kyk en bly kyk na Jan. Jan kyk terug. "Kom ons begin voor," sê die man. "Jy wil daardie pen vir 'n trompet ruil?"
"Ja, maar ek wil eers die trompet sien.""Dit sal nie help nie; ek sal dit nie ruil nie!"
"Dit staan op die venster: SWOP SHOP - RUILWINKEL, ONS RUIL ENIGIETS VIR ENIGIETS. Ek wil die pen vir 'n trompet ruil. En jy moet nou gou maak; ek het nie baie tyd nie, ek wil nog 'n klavier ook hê, in ruil vir my das. Maar eers wil ek op die trompet blaas."
Jan vat die trompet en hy blaas. Suiwer klanke word uitgetoor. Jan blaas en blaas, en die mense kom kyk. Later staan die hele winkel vol mense. Toe hou Jan op. En Jan hou die pen uit: "Wil jy ruil of wil jy nie ruil nie? Sê net ja of nee."
"Nee," sê die man. Toe sit Jan die trompet terug op sy plek, en terwyl hy uitstap, sê hy: "Dan blaas ek nie meer nie, want ek blaas net my eie trompet."

------------------------------------------------------------------------------------------

Die mag van die gewoonte


Jan loop in die straat.
Skielik is daar 'n muur en in die muur is 'n hek en op die hek staan daar geskryf: Geen toegang vir ONGEMAGTIGDEpersone nie.
Jan is leergierig, nuuskierig van aard. Jan eet nie alles vir soetkoek op nie. Jan is 'n Christenmens en hy ondersoek alle dinge, en soms behou by die goeie.
Die hek waarop staan: Geen toegang vir ONGEMAGTIGDE persone nie, staan oop. Op die sypaadjie, in 'n hokkie, op 'nstoel sit 'n oom.
Jan stap na die oom toe en vra: "Mag ek hier instap?"
Die oom bekyk hom van kop tot tone.
"Wie is jy?"
"Ek is Jan."
"Jy is Jan."
"Ek is Jan. En ek wil hier instap."
"Hoekom?"
"Nee, ek wil sommer."
"Hoekom?"
"Omdat die hek daar is.
Die hek is oop."
"Werk jy hier?"
"Nee."
"Dan mag jy nie daar instap nie."
Jan wys na 'n arbeider, 'n Swartarbeider, wat vee.
"Werk hy hier?"
"Ja."
"Mag hy hier instap?"
"Nee."
"Hoekom nie?"
"Ek weet nie, maar hy mag nie."
"Hy is nie gemagtig nie?"
"Nee, by is nie gemagtig nie."
"Ek is ook nie gemagtig nie?"
"Nee, jy is ook nie gemagtig nie."
"Net GEMAGTIGDE persone mag hier instap?" vra Jan.
"Dis reg," se die oom
" Wie kan my magtig?"
"Ekskuus?"
"Wie kan my toestemming gee om binne te gaan?"
"Een van die base . . ."
"Waar is hulle . . . die base?"
"Hulle is binne."
"Nou verstaan ek nie mooi nie. Die enigste ouens wat my
toestemming kan gee om binne te gaan, is juis binne. Hoe kom
ek nou by hulle om my magtiging te gee as ek nie magtiging het
om binne te gaan nie?"
Die oom bekyk hom van kop tot tone: "Wie is jy, het jy
gesê?"
"Ek is Jan.""Nou ja, Jan, gaan sk... 
"Ek dag jy gaan my nooit vra nie!!" En Jan stap binne, uit die MAG VAN DIE GEWOONTE.

--------------------------------------------------------------------------

Die deurklok wat nie wou lui nie


Jan kom van die tandarts af. Hy is baie bly, want hy het net vyf minute in die sadis se stoel gesit toe sê die dokter: "Baie geluk, jou tande is perfek. Nie een gaatjie nie. Jy mag maar loop."
Jan trap hoog as hy in Jeppestraat af stap. Jan is lus vir twak. Dan sien hy die kennisgewing op die deur. "Lui die klokkie. Ring the bell." Langsdie kennisgewing is daar 'n wit knoppie. Jan doen altyd alles wat hulle sê. Jan lui dieklokkie. Jan rings the bell.
Niks gebeur nie. Jan lui weer die klokkie. Niks gebeur nie. Jan sien daar is 'n telefoonnommer langs die klokkie geskryf. Hy soek 'n muntfoon. Die eerste een het nog net twee drade oor. Die tweede een wat hy kry, het 'n nare skreeugeluid soos 'n kat wat vrou soek. Nou stap hy tot by die poskantoor. Daar is.heelwat telefoons. Maar daar is ook heelwat mense.
Hy neem stelling in by een van hulle. Dit is nou by die een waar die mense bel. Dit is 'n meisie wat met Barend praat en vir Barend vra wanner by dan weer kom kuier, want sy verlang vreeslik.
Dit val Jan op dat die meisie nie munt in die muntbussie gooi nie, maar dat sy aanhou praat. Gebruik hulle dan nog lang tiekies? Toe sien Jan hoe hulle dit doen, want by die volgende telefoon bel 'n bekommerde moeder haar roekelose seun: " Boetie, my nommer is X0456 . . ." en sy plaas nie die buis neer nie, maar druk net die knoppie af. Twee oomblikke later trieng! die foon en sy loer oor haar skouer of Jan haar nie gesien het nie, maar by het.
So staan ses mense by ses telefoons en gesels ses uur aanmekaar en die oorspronklike doel van die muntfoon is kapoet. Jan wil die fenomeen by die posmeester rapporteer.
Hy soek 'n telefoon.
Toe by uiteindelik 'n foon kry wat nie beset is nie en wat nie stukkend is nie, haal hy sy sigaretdosie uit en skakel die nommervan die firma wie se klokkie nie wil lui nie.
"Jeppestraat-Beleggings!" sê 'n stem.
"Julie klokkie werk nie," sê Jan beskuldigend. "Ekskuus?" vra Jeppestraat-Beleggings.
"Op julle voordeur is 'n wit knoppie. Daarlanges staan: `Lui die klokkie. Ring the bell.' Ek het gelui en gelui, maar niks gebeur nie."
"Die battery is pap."
"Sal julle dit asseblief herstel?"
"Maar kan ons nie help nie, Meneer?"
"Ja, julle kan: kry 'n nuwe battery." Daarop het Jeppestraat-Beleggings nie 'n antwoord nie. "Ek gaan terug na dievoordeur toe, sal hy dan al reg wees?"
"Sekerlik, Meneer, dis net 'n battery wat ons moet vervang." "Mooi," se Jan, plaas die spreekbuis neer, draai op sy hak omen stap in die rigting van Jeppestraat-Beleggings.
-----------------------------------------------------------------

Jan lui die deurklok . . . volgens opdrag


Wat vooraf gebeur het: Jan kry 'n deur met 'n klokkie, en die kennisgewing sê: Lui die klokkie. Ring the bell. Maar dit wil nie lui nie.
Na baie gesukkel kry ons held 'n foon wat werk, en hy skakel die firma wat horn belowe dat hulle die battery sal vervang. Lees nou verder:
Jan staan in Jeppestraat by die groot deur van Jeppestraat-Beleggings. Sy lang, pesige voorvinger martel die klokkie. Jan kan in sy vingerpunt voel hoe lui die klokkie..
Nadat Jan tweetalig gelui het, gaan die deur oop.
"Ja?" vra die man in die wit jas wat die deur oopgemaak het. "Hoe bedoel jy, `ja'?" vra Jan.
"Wat wil u hê?"
"Ek wil niks hê nie . .
"Maar u het die klokkie gelui?"
"Ja, ek het die klokkie gelui," erken Jan.
"Waarom het u die klokkie gelui?"
"Wel, dit staan hier: Lui die klokkie. Ring the bell."
"Wie is u?"
"Ek is die man wat die klokkie gelui het." Daarop het die
man wat die deur oopgemaak het toe die klokkie gelui is, nie 'n
antwoord nie.
"Wat nou?" vra Jan.
"Nee, dit moet ek vir u vra: wat nou?"
"Wel, ek het gemaak soos u gesê het, ek het die klokkie
gelui. Nou verwag ek 'n teenprestasie."
"Ek het die teenprestasie reeds gelewer: ek het die deur
oopgemaak." Daarop het Jan nie 'n antwoord nie. "Dan loop ek
maar weer," sê Jan.
"Nee, maar reg," sê die man.
"Maar voor ek loop," sê Jan, "sê my eers: wat is u werk
eintlik?"
"0, ek is die man wat die deur oopmaak as iemand die
klokkie lui.' '
"Maar die klokkie was die hele oggend buite werking," sê
Jan.
"Natuurlik, ek het die battery verwyder, die dag nadat ek
hier kom werk het."
"Maar waarom het u so 'n gekke ding gedoen?"
"Ek het agtergekom as ek die battery verwyder, lui die
klokkie nie."
Jan glimlag breed en kyk nie weg nie. Jan is absoluut en hier
het by 'n sielsgenoot. "Is jy Absoluut?" vra Jan. "Nee, ek is
Harmse," sê die man. "Jy is!" juig Jan en pomp die man se
hand. "Wie is jy?" vra die man, nou baie verstom.
"Maar ek is die man wat die klokkie gelui het. Het jy dan al
weer vergeet?" vra Jan.
Daarop het die man nie 'n antwoord nie. "Dan groet ek eers,"
sê Jan, "draai kort-om en dink dat dit 'n mooi dag is.


[Uit: of so iets van fanus]


No comments:

Post a Comment