Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Monday, August 25, 2014

HUWELIKS/REIS/VERSLAG II

Dis seker maar die onbeperkte vermoë van die menslike verstand tot assosiasie wat my na Oom Willie se pad en kaptein Meier se landmynvoorval laat verwys, want mý strooijonker het laasgenoemde ook geken toe ons ná matriek die eerste ses maande van ons nasionale diensplig saam by die Heidelbergse Leërgimnasium vertoef het - in 1972 was hy een van die mees genadelose onderoffisiere en teen 1979 het hy ingevolge 'n spesiale snelbevorderingstelsel al gevorder tot kaptein. Dit was nog altyd vir my eienaardig dat die enigste man wat dié dag gesneuwel het, sappeur RF van Heerden was - die ontmyner...

Hoe dit ook al sy, ons is heel eerste na Oud-Riga om by 'n gewilde selfbedienrestaurant te gaan eet waar ek 'n paar hoenderboude (à la Ibhayi-raadslede) met twee bekers goeie Letse tapvatkvass afgesluk het. Daarna het ons die antieke keisteenstrate van die ou stad aangedurf en die gesellige drukte van Riga se fees as kulturele hoofstad van Europa vir 2014 geniet.

By een so 'n tenttaverne was daar 'n uitstalling van die mees indrukwekkende, kreatiewe "klip-en-ysterkuns":









...wat teen 'n gemiddelde prys van ongeveer €3 000 per kunswerk te koop was - as neefs Totie & Pieta moet weet hoeveel miljarde euro's daar op hulle plase rondlê, sal hulle terstond 'n dop gaan maak om nooit weer op te hou nie!

Ingrid het ook die volgende hemelse verskynsel (telefonies) digitaal vasgelê en sy was nie besig om Brugse kant te maak nie, maar om bowe-aards mooie klanke uit haar kokle te tower:

 

Hierna het ons almal weer The Beast bestyg en nadat ons Maija by haar en Martin se woonstel afgelaai het, het ons die pad gevat na Maija se ouers se dacha aan die monding van die Gaujarivier, waar ek en Ingrid in die slaapkamer by die banya geslaap het en die kinders in die dacha self.

Ek en Ingrid in die banya by 'n vorige geleentheid:

[word vervolg]




No comments:

Post a Comment