Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Saturday, January 3, 2015

NÓG TWINTIG JAAR IN DIE WOESTYN?

Beste Andries
 
Anthony Smith skryf in sy boek, The ethnic origins of nations, soos volg oor
die belangrikheid van mites, simbole en herinnering in die volk se lewe:
"Ethnic symbols provide satisfying forms, and ethnic myths are conveyed in
apt genres, for communication and mobilization. As they emerge from the
collective experiences of successive generations the myths coalesce and are
edited into chronicles, epics and ballads, which combine cognitive maps of
the community's history and situation with poetic metaphors of its sense of
dignity and identity. The fused and elaborated myths provide an overall
framework of meaning for the ethnic community, a mythomoteur which makes
sense of its experiences and defines its essence. Without a mythomoteur a
group cannot define itself to itself or to others, and cannot inspire or
guide collective action." 
(My klem)
 
Nou kan mens dadelik sien dat die ANC se propagandamasjien, veral die WVK heksejag, staatsbeheerde media en die dinge wat in skool geskiedenishandboeke opgeteken word ens. hierdie “mythomoteur” van die Afrikaner groot skade aangedoen het. Ons mites, simbole, herineringe - al die dinge wat ons bestaan hier aan die suidpunt van Afrika, ons en ons voorgeslagte se stryd en opofferings - betekenis moes gee en 'n doel daaraan moes heg word deur hierdie propagandamasjien van ons weggeneem.

Die gevolg van die aanslag op die Afrikaner se volkskap, sy mites en geskiedenis, sy helde en bydra tot Suid-Afrika se glorieryke verlede is dat ons mense hul samehorigheidsgevoel en lotsgebondenheid verloor. Ons voel dat daar niks is wat ons meer aan mekaar bind nie, dat ons verlede boos was en dat Afrikaner nasionalisme verantwoordelik is vir alles wat verkeerd is in ons land en dat ons, ter wille van ‘n voorspoedige Suid-Afrika, liefs ons volkskap moet aflê. Al die mites van ons gedeelde verlede, ons ontstaansgekiedenis wat aan ons bestaan vandag sin en rigting moet gee, is van ons weggeneem. Daarom het ons ook ‘n gedeelde volkstrewe verloor.Daar is dus geen aansporing om saam te werk nie want daar bestaan geen gemeenskaplike doelwit wat ons as groep kan motiveer nie. Die gevolg hiervan is dat ons uit die samelewing onttrek om as blote enkelinge agter ons hoe mure weg te kruip. Hierdie onttrekking beteken dat ons ook ons rug gedraai het op ons sosiale verantwoordelikhede en slegs maar omsien na ons eie private belange.

Vir leiers en organisasies is dit natuurlik ook onmoontlik om ons mense weer te inspireer tot gemeenskaplike deelname in die afwesigheid van gemeenskaplike doelwitte. Daarom bestaan daar nie 'n enkele persoon of politieke party of organisasie wat oor die afgelope dekade die Afrikaner tot kollektiewe optrede kon inspireer nie. En so gaan dit bly totdat die kohesie onder ons mense weer herstel is. Geen organisasie of persoon of politieke party of struktuur of metode sal egter daardie kohesie kan skep nie. Dit kan net geskep word deur 'n proses waarin die volk weer 'n mythomoteur - 'n gedeelde verlede - gegee word saam met 'n nugter beeld van hul huidige werklikheid wat die fondament vorm waarop die volk 'n gedeelde toekomsvisie bou. Slegs as hierdie dinge in plek is kan daar weer kohesie wees.

Daarom, kom ons vergeet eers van strukture en metodes en organisasies en help ons mense om eers weer hul identiteit terug te wen.  Kom ons beveg die klopdisselboom-reenboognasiebeeld wat die media aan ons mense voorhou deur hulle 'n realistiese beeld van hul huidige werklikheid te gee. Kom ons gee hulle ook ‘n mythomoteurwat hulle trots kan maak op hul Afrikanerskap, wat hulle kan inspireer om sonder skuldgevoelens en minderwaardigheid ook hul plek in hierdie land op te eis en saam te bou aan ‘n toekomsvisie vir hulle en hulle kinders. Kom ons gee mekaar eers hoop. Die res sal daaruit volg. 

Groete
Gerhard
_________________________________________


Petrus, alles in die lewe bestaan nie uit politiek nie, maar Gerhard Botma se Afrikanerapatie: 'n sisteembenadering moet ons vervang met, Afrikanerapatie: 'n politieke benadering.

Ek bevraagteken Anthony Smith se boektitel: The ethnic origins of nations, maar veral sy volgende stelling: “Without a mythomoteur a group cannot define itself to itself or to others, and cannot inspire or guide collective action."

Gerhard Bothma se hele pragtige stuk is daarop gebasseer, maar realisties gesien kan dit net lei tot verdere moedeloosheid. Non-politiek is valse hoop. Eintlik kan mens dit uit Gerhard se skrywe aflei: hy sien self duidelik raak dat die ANC se politiek Afrikaners se “mythomoteur” vernietig.  

Daar is net een oplossing hiervoor: Afrikanerpolitiek (magsaktiwiteite teenoor die ANC), nie Afrikanermythomoteurs nie. VF+ behoort dit teen hierdie tyd die beste te weet: non-politiek lei tot die grootste apatie.

Groete
Jacob

__________________________________________________

 DAG JACOB

Jy blý darem 'n ou staatmaker vir terugvoering.
Na aanleiding van jou Genk-aansoek wil ek net sê dat die weer hier
in Vlaanderen uitsonderlik gaaf is vir dié tyd van die jaar, behalwe
vir 'n Westewind wat my onophoudelik aan die tsoenami laat dink en
die ongelooflike krag van die elemente; my jonger broer is nou so
twee maande in Ierland en die wind het 'n paar dakpanne van sy
splinternuwe huurhuis se dak afgewaai, maar gelukkig het ons nog nie
skade gehad nie al is ons pondokkie tweehonderd-en -vyftig jaar oud.
My ouer broer, wat by Witrivier boer, sê dis baie warm en droog by
hulle.

My eie beskouing oor Smith se "mythomoteur" kan ek kortliks soos
volg opsom: As gevolg van die Afrikaner se besondere geskiedenis was
die Christelike geloof en die Bybel die inspirasiebron van ons
volksmites - waarskynlik in 'n baie groter mate as by enige ander
volk omdat daar soveel ooreenkomste tussen ons en die ou Israeliete
geïdentifiseer kan word.
Vir die Engelse speel Shakespeare se geskrifte 'n belangriker rol as
die Bybel en vorm waarskynlik die voedingsbodem van hulle (moderne)
mitevorming.

Ofskoon die Christelike geloof en die Bybel vir baie Afrikaners
vandag sy "geloofwaardigheid" as inspirasiebron verloor het, beteken
dit nie dat 'n mens dit nou met alle mág moet verwerp nie - ons moet
ons geloofs- en wêreldbeskouing aanpas en daarvoor is dit nie nodig
om 'n ateïs of 'n vyand van die Christelike geloof en die Bybel te
word nie - alle volkere gló maar volgens hulle eie oorgelewerde
tradisies en daarom kan ek die Afrikanerdominees ook nie ten laste
lê dat hulle ons vroeër mislei het nie: hulle het sélf ook maar nie
van beter geweet nie...

Dit lyk vir my ons sal moet aanvaar dat die geloof en die Bybel deel
van ons tradisie is, maar dat ons dit nóú op 'n ander manier sal
moet akkomodeer.

Ten slotte wil ek darem net sê dat jy op jou eiesoortige (baie keer
kriptiese) manier só deurlopend leiding gee - soveel meer as sommige
ander pierewaaiers wat jy so lojaal ondersteun - dat ek jou hiermee
wil nomineer as kandidaat vir die te verkose Verteenwoordigende
Afrikanerraad.

Groetnis

Petrus Potgieter 

No comments:

Post a Comment