Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Thursday, April 16, 2015

RADIO PRETORIA REDAKSIONELE KOMMENTAAR

16 April 2015 - ‘n Omvattende Afrikanerstrategie nodig

Daar is al hoe meer eenstemmigheid, vanuit feitlik alle oorde in Afrikanergeledere, dat die land tans in ‘n stadium van ongekende wetteloosheid inbeweeg. In die tagtigerjare het dit heelwat minder as die huidige skynbare anargie gekos om ‘n noodtoestand te laat afdwing met die doel om wet en orde te herstel en menselewens te beskerm.
Vandag word veral die wetteloses se regte hoog geag: die vermeende moordenaar het die reg om op borg vrygelaat te word; onwettige immigrante het die reg om beskerm te word teen uitsetting uit die land; stakende werkers het dikwels meer regte as die werkgewers wat hulle salarisse betaal, en so kan die lys nog heelwat uitgebrei word.
Hierdie toestand van wetteloosheid het al daartoe gelei dat daar gepraat word van ‘n toestand van anargie wat heers. ‘n Engelssprekende rubriekskrywer, Eric de Castro, beskryf in ’n artikel op die webwerf News24, ’n anargie as “’n toestand van wanorde as gevolg van die afwesigheid van ‘n regering – die chaotiese toestand wat ontstaan as gevolg van daardie afwesigheid – ‘n toestand van verwarring en wilde gedrag waardeur die mense van ‘n land, groep of organisasie, nie beheer word deur wette en reëls nie. Daar heers ‘n ontkenning van die bestaan van gesag en instellings – ontwrigting van vrede en openbare orde. Wetteloosheid, nihilisme, revolusie, opstand, chaos, opstand, rumoer, onrus.
As daar ooit sprake was van ‘n omvattende aanslag teen veral die Afrikaner, dan is dit juis nou.
Ons kan onsself nie sus met die gedagte dat die huidige xenofobiese geweld slegs by geweld teen buitelanders gaan bly nie.
Die huidige beeldestorm is ‘n voorbeeld daarvan. Die universiteite is steeds in die spervuur, die skole is onderdruk oor toelatingsprosesse, boere se grond word al feller geteiken, en dit gaan nie noodwendig ophou by landbougrond nie.
Daar word dikwels vanuit owerheidsweë gedreig dat as grond nie oorgedra gaan word na swart eienaars nie, daar ‘n revolusie gaan kom.
Op hierdie dreigement het TLU SA al tereg die vraag gevra of mense besef watse revolusie kan wag as daar nie meer kos in die land gaan wees nie?
Die Arabiese lente en die gebeure in Egipte, Tunisië en Libië het dit duidelik uitgewys.
Die Nelson Mandela Stigting se jongste navorsing dui daarop dat daar tans meer rassisme in die land is as in 1994.  Dit beteken dat daar tans ‘n gees van onversoenbaarheid in die land heers. Navorsing laat verlede jaar het daarop gedui dat wit- en swartmense mekaar steeds minder begin vertrou.
Steeds is daar instansies wat probeer voorhou dat die onderhandelings voor 1994 ‘n sukses was. Dit was bepaald nie!
Minderheidsregte is hoogstens semanties aangespreek, maar nie wesenlik nie. Daar is nie onderhandel vir ‘n algehele amnestie van veligheidsmagte nie; daar is nie “onomkeerbaar” onderhandel vir eiendomsregte nie; daar is nie onderhandel vir die uiteindelike uitfasering van swart bevoordeling nie; die kultuurerfenisse van die land se diverse gemeenskap is nie “onomkeerbaar” vasgelê nie.
Wat nou nodig is, is ‘n nuwe strategie en onderhandeling na ‘n ander model, waarin vir ‘n begin, minderheidsregte baie stewiger en duideliker omlyn, vasgelê moet word.
Om dit te kan afdwing, sal ‘n omvattende Afrikanerstrategie, met sterk instellings wat aan daardie strategie gestalte gee, nodig wees.
Ons het nie meer die luukse om vas te klou aan magsbasisse nie. Almal se plek en se rol moet uitgeklaar word ten einde ons regmatige eise weer op die tafel te kry, ter wille van die oorlewing van ons kinders en kleinkinders.

No comments:

Post a Comment