Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Tuesday, July 25, 2017

OPE BRIEF AAN HENDRIK GROBLER

Beste Hendrik

(Ek haal jou skrywe aan die einde van die brief aan.)

Aangesien ek nie oor 'n Facebookblad beskik nie, het my goeie kameraad my goedgunstiglik oor jou besondere skrywe op die GRENSOORLOG/BORDER WAR 1966 - 1989-blad ingelig.

Aangesien ek verder minstens tien jaar ouer is as jy, het ons SAW-betrokkenheid nie presies dieselfde verloop nie, maar tóg naby genoeg dat ek met jou kan identifiseer, veral met verwysing na 101 Bn - ek is in 1977 saam met sersante Selwyn Gray en Lawrie Evans van 2 Regiment Algoabaai op "afgedeelde diens" na die oorspronklike 1 Owambo Bataljon gestuur om die eerste inname Owambos by die opleidings- en administratiewe basis in Ondangwa op te lei.

Al wás die meeste Owambotroepe (waaronder die latere genl Karel Ndjoba) daar vir die geld, was die vordering wat ons binne enkele weke met die "rou Owambos uit die bos" gemaak het, fenomenaal.

Aan die einde van die 3-maande kamp het ek, terug in die "States", tot die regsberoep toegetree as staatsaanklaer in Port Shepstone en ses maande later as prokureursklerk by die firma Van onselen & Lewies op Potgietersrus - die twee beste prokureurs waarmee ek in my lewe te doene gekry het, maar baie kort na die aanvang van my klerkskap het ek besef dat dit in die regsberoep primêr oor geld gaan en dat die res bysaak is.

Terwyl ek my prinsipaal bygestaan het in 'n saak van onwettige jag deur 'n polisiesersant in die landdroshof op Messina, het ek besef dat ek moes ontsnap aan dié situasie en aangesien die werk wat ek by 1 Ow Bn gedoen het vir my só sinvol was, het ek kortdiens aangesluit op voorwaarde dat ek teruggaan na 1 Ow Bn.

Ek is einde-1978 terug na Ondangwa, maar intussen het 1 Ow Bn se naam verander na 35 Bn. Gelukkig was maj Willie Snyders, wat nou kommandant Snyders was, nog steeds die bevelvoerder.

Hulle kon my ongelukkig nie weer as instrukteur aanwend nie en ek is na die operasionele basis te Omahanene gestuur waar ek as KSM waargeneem het onder bevel van kapt André Meier.

Gedurende 'n "plaaslik-georganiseerde" operasie (ek dink dit is "Ops Baksteen" genoem) het die 2ib, luit André Scholtz, my in die Suide van Angola met sy "ge-gyppo-de" outomatiese R1 in die regter bo-arm en in die maag geskiet.

Terwyl ek in die ou 1 Mil was, het ek aansoek gedoen vir 'n oorplasing na militêre inligting, maar dis geweier "aangesien my fisieke toestand nie na wense was nie" - as gevolg van 'n grootliks verlamde linkerbeen kon ek nog nooit weer sedert 1 Julie 1979 hardloop of draf nie...

My lewe was in 'n warboel en ek is van 1 Mil af terug na my ouerhuis in PE waar ek ek my klerkskap by die Jodefirma Burman, Blumberg & Saks voltooi het en is later in Pretoria as prokureur toegelaat.

Ek is in 1981 met my (Suid-Afrikaansgebore) Vlaamse meisie van universiteitsdae getroud en in 1991 het ons ná FW de Klerk en die Nasionale Party se verraad teenoor die Afrikanervolk (ernstig teen my sin) uitgewyk na Vlaanderen met ons drie seuntjies van 1, 2 en 3 jaar, met dien verstande dat ek "in 'n oogwink terug sal wees, die dag wanneer ek 'benodig' word.
Ek het my vrou gewaarsku dat dit waarskynlik binne ses maande sou wees...

Inmiddels is al drie seuns al "huisuit" en het ek al oupa geword en nog steeds word ek nie "benodig" nie, maar my lewe hier was hoegenaamd nie sinneloos nie.

Ek het híér agtergekom hóé rég PW Botha en Magnus Malan was oor die "totale aanslag".
Dit was nie net 'n totale aanslag teen "Blank Suid-Afrika" en die Afrikaner nie, maar weliswaar teen die gehele blanke ras.
Suid-Afrika was die eerste proeflopie vir 'n latere globale aanslag wat vandag wêreldwyd in alle felheid gevoer word.

Om tot hierdie insig te kom, was ek egter verplig om 'n hele paar "seders in Waterkloof" te laat val en 'n klompie heilige Kaapse koeie te slag.
Só het ek tot die besef gekom dat die Afrikaner sélf deel is van die BMWS: Bedrog, Misleiding, Wanvoorstelling en Swendelary waardeur die destydse Boerevolk se aartsvyand, te wete die Britte, deur middel van hulle geheime agente, Louis Botha, JBM Hertzog en Jan Smuts oorgegaan het tot die kunsmatige skepping van die Afrikanervolk om die Boerevolk finaal te vernietig en sy plek in te neem.

Indien jy so voel, kan ons in 'n volgende gesprek besin oor die bedenklike rol wat die kerk deur middel van die Joods-Christelik-Islamitiese Drie-Eenheidsgodsdiens gespeel het om die Boerevolk te kondisioneer en selfs te indoktrineer en sodoende ten gronde te rig...

Groete 

Petrus Potgieter 

Goeie dag almal,
Hierdie is my eerste plasing op hierdie groep. Kortliks my diensplig rekord; 1984: 2 SAI Rooikop, Infanterieskool,
1985: 101 Bn, RM 6
Al my kampe voltooi.
Ek bly en werk in die VSA waaroor ek al verskeie negatiewe aanklagtes gekry het. My standpunt is egter dit:
In my eie land was my werksloopbaan en opsies in my lyn van ervaring in n doodloop straat, ek bly egter patrioties en is in n oogwink terug, die dag wanneer ek "benodig" word..
Ek sal soveel moontlik konstruktiewe kommentaar op die volgende waardeer:
Gedurende diensplig was ons opgelei en geleer in die doelstellings en beginsels van die rewolusionere aanslag teen ons land en volk, ek dink ek hoef hieroor of oor die 3Susterskerke se ondersteuning hiervan uit te brei nie. Iets wat my ernstig geraak het en wat almal van ons ervaar het was n spesifieke doelstelling en ek kan nie die woorde onthou nie, maar dit was iets soos "kill the innocent recentlessly and run from the strong shamelessly"
N ernstige bekommernis tans vir my is die byna weeklikse plasings op fb oor die verdwyning van jong kinders in SA, studente wat doodgemaak word en die grondbesettings dreigemente deur n nuwe groep millitantes..
Verskeie mense se vir my die meeste van dit is vals nuus of waardelose dreigemente.
Ek is nie n rassis nie (per spesifieke definisie) en ek glo die meerderheid mense oor die wereld wil maar net die basiese dinge he (Maslow) maar ek was in die weermag en ek weet hoe maklik word mense geindoktrineer.
My vraag is dit..
Hier is n groep met duisende lede, die plasings is meestal maar van n klein groepie, die wat ek sien ieg, wat moet gedoen word? Ons hoor niks meer van die rewolusionere aanslag nie, als word geregverdig deur n apartheidsverskoning.. wat is hierdie stadige en verspreide aanslagte anders as rewolusionere oorlogvoering?
Ek het kinders in SA wat daar wil bly en daar n toekoms wil begin, maar is dit nog moontlik? Ek is so telleurgesteld in ons kerke, behalwe die voetewas eskapade, word die huidige demoniese aanslag teen ons volk totaal ontken..
Ek glo in gebed, maar ek glo ook in objektiwiteit en realisme en ek glo in die respek vir alle lewe, dit is tog deur ons God geskep.
Wat staan ons te doen? Ek het pyn in my hart elke keer as ek die fb plasings sien oor ons kinders wat so verdwyn, oor boere wat vermoor word, ek plaas nie n "amen" of n "like" ek huil in my hart en ek wonder oor die groot vraag in die Bybel, die een wat eendag vir ons elkeen gevra gaan word - "wat het jy gedoen?""